INNOCENTIUS III

INNOCENTIUS III (1160–1216). Lothar van Segni is een van die belangrikste pouse* van die Middeleeue. ’n Afstammeling van ’n aristokratiese familie, was hy beroemd vir sy intellektuele en diplomatiese vernuf, asook vir sy geleerdheid. Hy is tot pous verkies toe hy slegs 37 jaar oud was.

Oortuig daarvan dat die kerk* en staat* elkeen sy eie gesag van God ontvang het, en dus onafhanklik van mekaar is, maar vir die algemene welsyn moet saamwerk, was dit sy vaste beleid om die politieke onafhanklikheid van die pousdom te verseker en op kerklike terrein die pouslike gesag te bevestig.

In 1215 het hy die kerkvergadering Late­ra­num IV bymekaargeroep, die grootste algemene kerkvergadering vóór Vaticanum II (1962–1965) (Kyk by: Vatikaanse konsilies). Dié vergadering het geantwoord op ’n aantal ketterye* wat verwarring gesaai het. Die volgende prioriteit van Late­ranum IV was die hervorming van kerklike strukture en ampsbekleders. Hieraan is gedeeltelik uitvoering gegee deur die goedkeuring van twee nuwe bedelbroeder-ordes, die Dominikane* en Franciskane. Hier­deur het hy ’n vernuwing in die her­derlike bediening teweeg gebring.

Innocentius III het die vierde en vyfde kruistogte* aangemoedig, maar die misbruik van die vierde om Konstantinopel* aan te val, verdoem. Volgens sy siening het deelname aan ’n kruistog vir ’n leek volkome oorgawe aan God beteken, en God se belange is parallel gestel aan die selfverloëning van ’n monnik*.

Sidebar