INSPIRASIE

INSPIRASIE. Wat die Bybel* uniek maak, is die feit dat dit, volgens die Skrif* self, deur God geïnspireer is en wel deur ’n baie besondere handeling van die Heilige Gees*: “Want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig” (2 Pet 1:21). In 2 Tim 3:16 staan dit selfs duideliker: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer.” In die drie Griekse woorde van die oorspronklike teks – pasa graphe theopneustos – verklaar die Bybel* self dat dit in sy geheel Woord van God is (Ou Testament*, maar uiteindelik ook Nuwe Testament*). Alhoe­wel die woord inspirasie meer dikwels ge­bruik word (na die Latynse inspiratio van die Vulgaat*), gee die woord teopneustie*, wat uit die Griekse woord afgelei is, die ware betekenis van wat daar gebeur het, nog beter weer. Dit gaan nie hier net oor gewone inspirasie nie, maar oor ’n unieke en onherhaalbare gebeure. Daar is egter nie eenstemmigheid onder teoloë oor hoe ons presies moet dink oor die inspirasie of teopneustie van die Bybel nie. Verskillende inspirasieteorieë* is met verloop van tyd aan die hand gedoen. (Kyk ook by: Skrifbeskouing en: Teopneustie.)

 

Sidebar