INTERNASIONALE SENDINGRAAD

INTERNASIONALE SENDINGRAAD (ISR). Hierdie liggaam is in 1921 in Lon­den gestig as uitvloeisel van die Internasio­nale Sendingkonferensie* te Edinburg (1910). Aanvanklik het die inisiatief hoofsaaklik van die kant van die noordelike sturende kerke en lande gekom, maar die doel van die ISR was om ’n internasionale netwerk van “sturende” en “ontvangende” liggame daar te stel waardeur getuienis en diens wêreldwyd gestimuleer kon word. Die ISR het interkerklike sendingvereni­gings in die Noorde en interkerklike liggame in die Suide met mekaar verbind. Sake wat veral aandag geniet het, was godsdiens­vryheid*, teologiese opleiding*, opiumverslawing, arbeid, slawerny*, rassediskrimi­nasie*, die kerk* in stad en platteland, gesinslewe*, en lektuur. Die ISR het kerklike liggame wêreldwyd bymekaargebring rond­om die gesamentlike diens- en getui­e­nistaak van die kerk in ’n snelveranderende wêreld. Die ISR het sodoende die ekumeniese beweging (Kyk by: Ekumene) in die 20ste eeu help bou. Die insig het in die ISR gegroei dat kerk en sending* nie geskei mag word nie. Sedert die oprigting van die Wêreldraad van Kerke* in 1948 het die besef al sterker geword dat ’n aparte ekumeniese sendingliggaam geen bestaans­reg naas ’n ekumeniese kerkliggaam het nie. In 1961 is die ISR by die WRK ingelyf as die Division of World Mission and Evangelism.

 

Sidebar