INTERNET-EVANGELISASIE

INTERNET-EVANGELISASIE. Die in­ter­net het die wêreld van kommunikasie permanent en totaal verander. Die internet, ’n Westerse (Amerikaanse) “uitvindsel”van die laat 20ste eeu, en lankal in die Weste onvervangbaar deel van die alledaagse lewe, het in ’n land soos China vanaf 250 000 in 1997 tot meer as 600 miljoen gebruikers in 2015 gegroei. Suid-Amerika en groot dele van Asië het deel geword van die internet-gemeenskap. In die Midde-Ooste is daar ’n redelike vrye toegang tot die internet met die moontlike uitsondering van Saoedi-Arabië. Sosiale internet-netwerke – Facebook, Twitter en Youtube – het die gangbare manier van kommunikasie vir baie mense oor die hele wêreld geword.

Die internet is ’n kragtige instrument vir evangelisasie* en opereer op verskillende maniere: Vrye toeganklike webbladsye wat op evangelisasie konsentreer en beskikbaar is vir enige persoon wat oor die internet beskik; persoonlike interaksie deur middel van gesprekskamers (chat rooms); kort klank- of video-opnames.

Die internet bied uit die aard van die saak unieke geleent­­heid om deur allerlei “gordyne” en “mure” wat mense van mekaar skei, te dring en ook mense in lande te bereik waar die Christelike geloof onwelkom is. So kan dringende gebedsversoeke bv binne minute om die wêreld beweeg en vermenigvuldig word met die oog op wêreldwye voorbidding.

Sidebar