INWENDIGE MENS/INNERLIKE MENS/DIEPSTE WESE

INWENDIGE MENS/INNERLIKE MENS/DIEPSTE WESE. Paulus* gebruik die term “inwendige mens” (Grieks* éso ánthropos – Rom 7:22; 2 Kor 4:16; Ef 3:16) – in teenstelling met “uiterlike mens” (éxo ánthropos). Die onderskeiding herinner aan die onderskeiding “gees-vlees”, maar is nie presies dieselfde nie. “Inwendige mens” is baie na aan “hart” (kardia), waarmee Paulus die wese van die persoon bedoel, die sentrum van sy emosies, en ook gedagte en wil. Hy vertaal waarskynlik die Hebreeuse* woord vir “hart” en praat in die idioom van die LXX*. [Die Nuwe Testament en Psalms – ’n Direkte Vertaling (2014) vertaal die Grieks met “in my diepste wese”(Rom 7:22), en elders met“innerlike mens” (2 Kor 4:16 en Ef 3:16)].

Paulus gebruik ook ’n ander woord, nóus, wat selde in die LXX voorkom, maar baie meer by Hellenistiese* skrywers. Die 1933/1953-Afrikaanse Vertaling vertaal dit met “ge­moed” (Rom 7:23, 25; 12:2) en die 1983-Vertaling omskryf dit gewoonlik (Rom 7:23, 25 – “gees”, Rom 12:2 – “denke”). Vir Paulus was dit ’n belangrike woord: in sy persoonlike sielestryd aanvaar hy met sy nóus die wet* (Rom 7:23, 25); die vernuwing van gelowiges geskied deur “die vernuwing van julle nóus” (1933/1953-Vertaling). As die Galasiërs, wat eens hulle geloof in Christus* geplaas het, gevaar loop om op die werke van die wet te vertrou, is Paulus ontsteld: Hoe kan hulle so “sonder begrip” (Gal 3:1, 3) wees? Die oorvleueling tussen ho éso ánthropos, kardia en nóus wys dat Paulus verskillende terme gebruik om die sentrum van ’n mens se emosies, denke en wilsbesluite aan te dui. Dit is die sentrum van rasionele denke, maar sluit ook affektiewe en konatiewe aspekte in. Die “inwendige mens” is ’n mens se innerlike sentrum vir besluitneming – en daar speel denke en emosies albei ’n rol.

Vir verdere lees: H Ridderbos 1966. Paulus: Ontwerp van zijn theologie. Kam­pen: Kok. JDG Dunn 1998. The Theology of Paul the Apostle. Grand Rapids: Eerdmans.

 

Sidebar