IRENAEUS

IRENAEUS (circa 175–195), biskop van Lugdunum in Gallië (nou bekend as Lyon in Frankryk), was waarskynlik ’n swartman van Smirna in Klein-Asië, wat as ’n jong seun na die leringe van die apostoliese vader Polikarpos* geluister het. Dit bring hom in noue kontak met die apostoliese geslag en die tradisies van die ouderlinge*. Irenaeus studeer en onderrig in Rome* voordat hy na Lyon verhuis. Sy arbeidsveld sluit ook Wene en aangrensende dele in. Hy is aanvanklik ’n ouderling en volg Polikarpos op nadat hy in die vervolging van die Christene in 177/8 gesterf het. Hy speel ’n belangrike rol in die Vroeë Kerk* waar die biskop* nog as ouderling opgetree het. Die apostoliese tradisie was ingebed in leer en lewe, met spesiale verwysing na die Ou* en Nuwe* Testament. Teenoor die gnostiese leerstellings en tradisie, vestig Irenaeus die apostoliese pilare van die katolieke ortodoksie*. Die eenheid van die Vader*, Seun* en Heilige Gees* in die skepping*, verlossings- en opstandingsleer* word sterk beklemtoon. Hy lê min klem op die sonde* en glo nie aan erfsonde* nie. Hy het ’n groot invloed op Atanasius* en op die teologie* van die Oosterse Kerk. Irenaeus teken sy teologie in 185 nC in vyf boeke op.

Vir verdere lees: FMR 1914. Irenaeus of Ligdunum, A Study of His Teaching. H von Campenhausen 1963. Fathers of the Greek Church. New York: Pantheon. JD Douglas (red) 1974. The New International Dictio­nary of the Christian Church. Exeter: Pater­noster Press.

Sidebar