IRRASIONALISME

IRRASIONALISME, “wat nie rede-lik is nie”, kry as begrip slegs betekenis deur dit te kontrasteer met rasionalisme*, en daarom is irrasionalisme ’n retrospektiewe begrip. Die eerste begripsvorming van die “irrasionele” vind ons in die denke van die vroeë Grieke in wiskunde met betrekking tot “irrasionele” getalle, maar ook in die sfeer van die menslike met verwysing na hartstog, drifte en neigings. Dit is beskou as afwyking van die norm en maatstaf in die natuurlike redelike orde. Hieruit ontstaan die betekenis van die irrasionele as dit wat nie deur die verstand, die rede en die wetenskap vasgepen sou kon word nie. Hierdie betekenisinhoud het tot vandag toe in Europese denktradisies die blywende teenspel geword van rasionalisme (bv JG Hamman, FH Jacobi, A Schopen­hauer, F Nietzsche*, J-P Sartre*). As teenspel beklemtoon dit die onoortreebare grens van ons kenvermoëns in die bestryding van die pretensie van die wetenskap en tegniek, van die verstand en rede, dat dit die tota­liteit van ons ervaringswêrelde ten volle sou kon beheer. In die treffende woorde van Hamlet aan Horatio in Shakespeare se Hamlet: “There are more things in heaven and earth, Horatio, than are dreamt of in your philosophy,” of Pascal& se “die hart het sy eie redes”.

Sidebar