ISEBEL

ISEBEL is die koningin van Israel*4 wat getroud was met Agab*. Isebel is bekend vir haar wreedheid en sy vermoor talle profete* van God. In 1 Kon 19 lees ons hoe Isebel op die profeet Elia* se spoor is om hom te vermoor. Toe Elia hierdie nuus hoor, vlug hy en bevind homself onder die besembos in die woestyn waar hy diep terneergedruk is oor die aanslag op sy lewe. In 1 Kon 21 is Isebel ook direk verantwoordelik vir die moord op Nabot*, wanneer sy vals getuies inbring om van hom ontslae te raak sodat haar man sy hande op Nabot se wingerd kan lê. Toe Elia van hierdie onreg te hore kom, stuur hy boodskappers na Isebel met die dreigement dat die honde Isebel se bloed sal oplek daar waar Nabot se bloed gevloei het. Hierdie profesie word bewaar­heid in 2 Kon 9 toe Jehu* die paleis binnegedring en Isebel by die venster uitgegooi het. Wanneer Jehu later opdrag gee dat Isebel begrawe moet word aangesien sy tog ’n prinses is, vind hulle dat daar net ’n paar beendere van haar oor is.

Sidebar