ISHERWOOD, ANNIE CECELIA (MOE­DER CECILE)

ISHERWOOD, ANNIE CECELIA (MOE­DER CECILE) (1862–1906) is in Uxbridge, Engeland, gebore. Haar ma is oorlede toe sy 8 was en haar pa 5 jaar later. Sy is deur haar broer en vriende van die gesin grootgemaak. By St Peters in Eaton Square, Londen, het sy haar lewe as non* aan die Here* en die kerk* toegewy. Biskop Webb van Grahamstad het haar uitgenooi om by hom in sy gemeente* aan te sluit en te help met die uitbreiding van die Anglikaanse Kerk*.

Toe sy in 1883 in Grahamstad aankom, is sy getref deur die toestand in die plaaslike tronk. Geharde misdadigers en kinders was in dieselfde selle opgesluit. Op grond van haar vertoë is ’n parlementêre kommissie aangestel om toestande in tronke te ondersoek. Intussen het sy ’n kinderhuis in Grahamstad tot stand gebring en ’n tehuis vir ongehude moeders in Port Elizabeth. Sy het ook ’n sustersorde, die tweede in Suid-Afrika, die Community of the Resurrection of Our Lord, gestig. Sy het ’n stuk grond, Eden Grove, bekom waar ’n klooster* opgerig is. Moeder Cecile het ook met ’n opleidingskollege in Grahamstad begin waar blanke vroue opgelei is om met swartmense te werk. Sy het begin met die St Francis Xavier*-Sending wat op Chinese in Grahamstad gemik is en met ’n nywerheidskool vir swartmeisies. Isher­wood is op ’n relatief jong ouderdom aan ’n ongeneeslike pynlike kwaal oorlede.

 

Sidebar