ISIDORUS

ISIDORUS (560–636) ontvang sy opvoe­ding in die katedraalskool in Sevilla waar hy onderrig is in grammatika, retoriek, logika, rekenkunde, sterrekunde en musiek. Hier raak hy ook die klassieke tale, Grieks*, Latyn en Hebreeus*, in ’n kort tydjie baas.

Hy volg sy broer Leander as aartsbiskop* van Sevilla op. Gedurende hierdie tyd is daar verskeie belangrike konsilies (kerkvergaderings) in Spanje gehou. Hy lei die Konsilie van Toledo in 633 waar die eenheid tussen kerk* en staat* bepaal is en waar daar onder andere ook ’n be­leid van verdraagsaamheid teenoor die Jo­de* vasgestel is. Tydens hierdie konsilie is ’n dekreet uitgevaardig wat alle bis­kop­pe beveel het om seminariums in die verskillende stede tot stand te bring.

Hy is die skrywer en samesteller van ver­skeie belangrike werke waarvan die Origi­num seu etymologiarum libri XX die belang­rikste is. Dit bestaan uit twintig volumes en word as die mees bestudeerde werk ge­durende die Middeleeue beskou. Die werk omvat die wetenskap van sy tyd. Van sy ander werke handel oor die wetenskap, kos­mo­logie*, geskiedenis, dogmatiek*, etiek* en liturgiek*. Hy word beskou as die laaste antieke Christelike filosoof en die laaste van die groot Latynse Vaders. Tydens die Agtste Konsilie van Toledo is Isidorus beskryf as die “geleerdste man van later  tye”.

Sidebar