ISLAM

ISLAM

Islamitiese fundamentalisme en demokrasie

Daar was ’n tyd in die Middeleeue toe die Islamitiese beskawing aansienlik verder as dié in Europa gevorder was. Dit was tegnologies die geval, maar ook wat betref die mediese wetenskap, die filosofie, die geskiedskrywing – selfs die teologie.

Die herlewing van die beskawing in Europa, die Renaissance*, is grotendeels uit die Islamitiese beskawing gevoed. Laasgenoemde het gestagneer juis op ’n tydstip dat Europa met ’n yslike vaartversnelling begin ontwikkel het. Van daar het die Islam-kulture al hoe verder agter geraak totdat hulle in die laat 19de en vroeë 20ste eeu grotendeels deur Europa onderwerp is.

In die vroeë 21ste eeu wou ’n deel van die Arabiere sekulêr-liberale demokrasieë hê; ’n ander deel het hulle toevlug tot fundamentalistiese Islam gesoek. En, soos Iran sedert die revolusie van 1979 en Egipte* sedert sý revolusie van 2012 bewys het, sit die Islamitiese fundamentalisme nie langs een vuur met demokrasie* nie. Alle gedagterigtings wat hulleself verabsoluteer, is in werklikheid fundamentalisties* en trek in die teenoorgestelde rigting as die demokrasie. .

Ekstremistiese fundamentalistiese Islamitiese groepe – soos al-Qaeda, Al-Sjabaad en IS (“Islamitiese Staat”)* het in die eerste deel van die 21ste eeu met moord en doodslag hulle idees probeer bevorder. IS het beheer gekry oor dele van die Midde-Ooste (veral in Irak en Sirië) en met ’n skrikbewind Christene onthoof en “tereggestel”as hulle nie die Islamitiese geloof wou aanvaar nie, en in ander gevalle spesiale belasting van Christene vereis. Dele in die Koran* wat sulke optrede volgens fundamentalistiese interpretasie regverdig, word gebruik om Moesliems* te oortuig dat wreedaardige optrede reg is. Dié lees van die Koran is egter ver verwyderd van Islam-hoofstroomdenke.

(Kyk ook: Islam-groeperings; “Islamitiese Staat”(IS); Christendom en Islam; Martelaars; Sending en vervolging.)

Sidebar