ISLAM-GROEPERINGS

ISLAM-GROEPERINGS. Daar is twee hoofstromings of -groeperings in die Islam*-wêreld: die Soenniete en die Sjiïete. In die meeste Islamitiese lande is die Soen­niete oorheersend: Saoedi-Arabië, Afganis­tan, Pakistan, Indië, Egipte*, Turkye, Soedan. Iran is veral Sjiïties, Irak het ’n meerderheid Soenniete, maar ’n baie sterk Sjiïetekom­ponent. Die skeur in Islam-geledere het in 632 nC ontstaan. Mohammed* is dood sonder dat hy ’n opvolger aangewys het. Sommige van sy volgelinge het gemeen die rol van kalief (opvolger van Mohammed) moet na ’n bloedverwant van Mohammed gaan, naamlik sy neef Ali ibn Talib. Maar die meeste het Mohammed se vriend, Abu Bakr, gesteun, wat toe ook kalief geword het. Ali het uiteindelik die vierde kalief geword voordat hy in 661 vermoor is. Ná sy dood het die meeste Moesliems* vir Mu’awijah, goewerneur van Sirië, gesteun, maar Ali se ondersteuners wou sy seun, Hoessein, as kalief hê. In ’n bloedige bot­sing tussen die groepe is Hoessein doodgemaak en onthoof. Die Ali-volgelinge, die “Sji’at Ali” of Sjiïete, het Hoessein as ’n martelaar beskou en die herdenking van sy dood is tot vandag toe een van die groot Sjiïete-seremonies. Dié wat lojaal aan Mu’awijah en sy opvolgers was, het bekend geword as die Soenniete, volgelinge van die “Sunnah” of “weg” van die profeet (met “profeet” word Mohammed bedoel). Terwyl hulle almal in Allah* glo, het die Soenniete en Sjiïete baie godsdienstige en kulturele gebruike in gemeen – die verskille is dikwels subtiel en het veral te doen met styl. Hulle het bv verskillende gebeds­houdings, gee aan hulle kinders op verskillende maniere name en versier hulle huise verskillend. Die Soenniete beskou hulleself as meerderwaardig en die Sjiïete beleef hulle as onderdrukkend. In Irak het dit in die 2000’s tot bloedige botsings gelei en ontaard in ’n burgeroorlog, en so ook in bv Sirië. Die ekstremistiese fundamentalistiese IS (“Islamitiese Staat”)*-groepering wat dele van die Midde-Ooste in die tweede dekade van die 21ste eeu op horings geneem het, is Soennies. (Kyk ook by: Islam; Islamitiese Staat [IS].)

Sidebar