ISLAM

ISLAM is, soos die Christendom* en die Judaïsme*, ’n “godsdiens van die boek”. Die woorde “Islam” en “Moesliem” (of Moslem) is afgelei van die Arabiese werkwoord aslama – om (jou) te onderwerp. Dit het die betekenis van jou aan God te onderwerp, jou aan God oor te gee.

Die Moesliems is daarvan oortuig dat hulle dieselfde geloof volg as Abraham*, Isak*, Jakob* en Ismael*. Abraham en sy seuns was nie Jode* of Christene* nie. Sowel die Jode (Isak se nageslag) as die Arabiere (Ismael se nageslag) is uit Abraham gebore en daarom is die geloof van Abraham in die een ware God ouer as die Jode. Die Koran* eis dat die Moesliems die geloof van Abra­ham moet navolg (Sura 2:136). Die Islam erken die profete van wie ons in die Bybel* lees, en het ook hoë agting vir Jesus* as besondere profeet en boodskapper van God. Nadat God (= Allah) Hom deur die profete (ook deur Jesus) aan die mens geopenbaar het, het Hy Hom volgens die Islam die beste en duidelikste bekend ge­maak deur Mohammed*.

Alles wat ’n gelowige Moesliem moet weet, bely en doen, is in 114 suras (hoof­stukke) van die Qur’an* (Koran) saamgevat. Die teks van “die boek” (Al Kitab), so glo elke Moesliem, is deur die engel* Gabriël aan Mohammed gedikteer – die Moesliems glo aan die woordelikse inspirasie van die Koran. Die Arabiese teks van die Koran is heilig en streng gesproke onvertaalbaar – al het daar reeds talle vertalings verskyn. Miljoene getroue Moesliems leer Arabies* spesifiek met die doel om die Koran in die oorspronklike taal te lees en memoriseer. Daar is baie Moesliems, ook in Suid-Afrika, wat die Koran in sy geheel in Arabies uit die hoof ken.

Die Islam is ’n tipiese wettiese godsdiens, waar die gelowige homself/haarself moet verlos deur vyf basiese pligte na te kom.

  1. Die geloofsbelydenis (sjahada). Wan­neer iemand die geloofsbelydenis aflê – “Daar is net een God en Hy is Allah, en Mohammed is sy profeet” – maak dit van hom of haar ’n Moesliem. Hierdie belydenis moet soveel as moontlik gesê word en dit moet ook voor ander bely word. Van elke Moesliem word verwag om ’n sendeling te wees wat die naam van Allah groot maak waar hy of sy ook al kom.
  2. Die gebed (salaat). Vyf keer op ’n dag, elke dag van die week, word dit van ’n Moesliem verwag om tyd af te sonder vir gebed. Waar hy hom ook al bevind, moet hy sy matjie ooprol – met sy gesig na Mekka – en met sy gebedsritueel begin. Vry­dae moet hy saam met sy medegelo­wiges in ’n moskee gaan aanbid. Die gebeds­houding word noukeurig voorgeskryf: buigings, kniebuigings, sowel as plat op die grond met die gesig op die vloer. Voordat die Moesliem aan gebed kan deelneem, is daar spesifieke reinigingrites wat afgehandel moet word.
  3. Die aalmoese (zakat). Elke Moesliem word deur die Koran verplig om 2%, een veertigste, van sy inkomste aan liefdadig­heid te bestee. Daarbenewens word vrywillige offergawes en veral gasvryheid teen­oor vreemdelinge en mense wat in nood verkeer, baie hoog aangeslaan.
  4. Die vas (ramadan). Tydens die maand Ramadan* (die maand waarin die Koran* volgens Islam aan Mohammed* geopenbaar is) word dit van elke man en vrou en kind – behalwe die siekes, die bejaardes en klein kindertjies – verwag om van sonopkoms tot sononder te vas. Gedurende die aand en in die nag mag kos en drank wel gebruik word. Daar is drie doelstellings vir die vas. Dit moet hulle selfdissipline leer, afhanklik van God laat wees, en sensitief maak vir die ly­ding van armes en hongeriges oral op aarde.
  5. Die pelgrimstog na Mekka (hajj). Een maal in ’n gelowige se lewe moet hy of sy die pelgrimstog na Mekka aanpak – as ’n mens dit enigsins kan bekostig. Die kleredrag en seremonies by hulle aankoms in die heilige stad word noukeurig voorge­skryf. Onder andere moet die pelgrims sewe maal om die Ka’aba, die kubus­vorm­ige gebou, stap. In die oostelike hoek van die gebou is ’n swart meteorietsteen inge­mes­sel, wat reeds in die tyd vóór Moham­med vir die Arabiere* groot godsdienstige betekenis gehad het.

Alle Moesliems op aarde vorm deel van ’n Moesliem-broederskap (ummah) wat oor alle grense sny. Geen klasse- of rasseverskille, geen ekonomiese verdeeldheid, mag die eenheid in die wiele ry nie. Daar is egter wel ook ernstige verdeeldheid onder Moesliems. Verskillende denkskole het deur die jare ontwikkel. Ook in ons tyd gebeur dit dat mededingende groepe mekaar hewig opponeer.

Vir die getroue Moesliem draai sy hele lewe om die moskee, waar die imam (die godsdienstige leier) gereed staan om lei­ding en raad – en ook vermanings – te gee. Die kinders word opgeneem in die madressa (die Moesliem-skool), waar hulle Arabies sowel as die tradisies en gewoontes van hulle geloofsgenote leer verstaan en waardeer.

Sekere kosse is vir Moesliems verbode. Dit is onrein, of soos die Moesliems sê: Dit is haraam (uitgespreek: garaam). Hieronder tel varkvleis en alkohol. Slegs voorgeskrewe en ritueel rein kosse is halaal en mag geëet word.

PGJ Meiring

 

Sidebar