ISLAMITIESE STAAT

ISLAMITIESE STAAT”(IS) is ’n terreurgroep wat in Februarie 2014 outonoom geword het nadat Al-Kaida hom amptelik van sy eertydse “vennoot” gedistansieer het. Die IS se strewe is om ’n kalifaat – ’n Islamitiese staat – te vestig. Die doel van ’n kalifaat is om alle Moesliems oor die wêreld heen te verenig. Volgens prof Hussein Solomon van die Universiteit van die Vrystaat glo IS in die Moesliem-armageddon en die opkoms van die Mahdi “wat verband hou met die die Christelike godfiguur Jesus* en sy wederkoms, wat volgens die IS ’n Moesliem is”(Die Burger, 23 Nov 2015). Die eerste kalifaat het met die profeet Mohammed* se dood in die jaar 632 begin. Die tweede kalifaat het van 661 – ná die eerste Moesliem-burgeroorlog – tot 750 geduur. Die hoofstad was Damaskus, wat nou die hoofstad van Sirië is. Daarom is dit vir die IS belangrik om ’n nuwe kalifaat in Sirië te vestig. In 2015 het die IS ’n gebied in Sirië en Irak beheer waar omtrent 10 miljoen mense woon. In 2015 was IS verantwoordelik vir of het aanspreeklikheid aanvaar vir meer as 60 terreur-aanvalle in Sirië, Irak, Frankryk, Saoedi-Arabië, Libië, Jemen, Tunisië, Afganistan, die VSA, Koeweit, Turkye, Bangladesj en Libanon. Hulle wreedaardige metodes – onder meer die onthoofding van mense – het selfs die VSA en Rusland tot samewerking teen dié terreurgroep gedwing. IS verteenwoordig ’n baie klein ekstremistiese groepering in Islam wat bepaalde verse in die Koran* op ’n uiters fundamentalistiese (Kyk by: Fundamentalisme) wyse interpreteer. Maar in die middel van die tweede dekade van die 21ste eeu het hulle in dele van die Midde-Ooste ’n skrikbewind gevoer. (Kyk ook by: Islam; Islam-groeperings; Christendom en Islam.)

 

Sidebar