ISRAEL

ISRAEL. Die naam Israel (dit beteken in Hebreeus* letterlik “God het geworstel”) word in verskillende kontekste gebruik.

Nuwe Testament:

  1. ‑In die Nuwe* Testament word hierdie tendens voortgesit. In die Evangelies* word die term soms ook vir die land gebruik (“dorpe van Israel” Matt 10:23), maar meesal as verwysing na die volk Israel (“die huis van Israel” Matt 10:6), of Jesus se opmerking “Ek het nog by niemand in Israel so ’n groot geloof teëgekom nie” (Matt 8:10).

‑   ’n Belangrike vraag is of die Nuwe Testament die kerk* verstaan as die “geestelike Israel” wat die volk Israel as die volk van God vervang het – ’n wydverspreide opvatting onder hedendaagse Christene*. Die oorsprong van so ’n be­skouing is waarskynlik frases in die Paulus*-briewe* soos “Israel na die vlees” (1 Kor 10:18), wat teenoor uitdrukkings soos “die Israel van God” (Gal 6:16) gestel word. In die lig van uitsprake soos “Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie” (Rom 9:6), word die gevolgtrekking gemaak dat die “ware Israel” eintlik die kerk is, ’n gedagte wat deur herhaling algaande ’n spreek- en denkwyse onder baie Chris­tene geword het. Die noukeurige leser sal egter oplet dat die Nuwe Testament nie presies so oor Israel praat nie. Paulus se verwysing na “Israel na die vlees” (1 Kor 10:18) is nie deel van ’n argument dat die kerk “Israel na die gees” is nie, maar ’n neutrale verwysing na die historiese Israel, en is deel van ’n vermaning aan Christene om niks met afgodsdiens te doen te hê nie (vers 14). In Gal 6:16 word die frase “Israel van God” dikwels gelees as ’n verwysing na die kerk. Vers 15 sê immers dat dit nie van belang is of ’n mens besny is of nie, “maar dat jy ’n nuwe mens is”. Die 1983-Vertaling vertaal vers 16: “En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel – mag God aan hulle vrede gee…” Dié vertaling laat egter die Griekse* woord kai (“en”) tussen dié twee frases uit, met die gevolg dat diegene “wat volgens hierdie beginsel leef” (alle Christene) en “die Israel van God” sinonieme word. Die 1933/1953-Vertaling vertaal meer presies: “En mag daar vrede … wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” Dié vertaling gee die indruk dat Paulus sy seën uitspreek oor alle Christene (nie-Joods of Joods) wat die gedagte weerstaan dat die besnydenis* vir gelowiges noodsaaklik is, en dan byvoeg “en oor die Israel van God” – ’n tweede groep wat wel volkome deel van die kerk is, maar wie se identiteit nie sinoniem met die kerk is nie. Vergelyk ook die Nuwe Testament en Psalms: ’n Direkte vertaling (2014. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika): “Vir hulle wat volgens hierdie beginsel leef: vrede en barmhartigheid – en vir die Israel van God!”

‑   Wanneer Gal 6:16 saamgelees word met Rom 2:28-29 (“Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie”) en Rom 9:6 (“Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie”) is dit duidelik dat Paulus wel ’n onderskeid maak tussen “Israel” en die “ware Israel”, maar dat die “ware Israel” vir hom nie sinoniem met nie-Joodse gelowiges of met die kerk is nie. Wanneer Paulus die term “Israel” gebruik, praat hy van Israeliete, van Jode*. Sy onderskeid is dus tussen die historiese Israel en die “ware Israel” – die Israeliete wat glo Jesus* is die Messias*. Met dié onderskeid volg Paulus ’n tradisie wat sy oorsprong in die Ou Testament het (so verduidelik Paulus in Rom 9:6-14) – naamlik dat daar van ouds­her af in die historiese Israel ’n pro­ses van “distinguishing and separating” (Cranfield; Barth) aan die gang was. Wanneer hy dus in Rom 9:6 van die “ware Israel” praat, bedoel Paulus nie die kerk nie, maar Jode wat in Jesus as die Messias glo. In Rom 4, weer, maak Paulus duidelik dat beide die Jode wat in Jesus glo (die “ware Israel”) en die nie-Jode wat in Jesus glo, kinders van Abraham* is, en dat daar geen wesenlike verskil voor God tussen Jood en nie-Jood is nie (Gal 3:28, Kol 3:11), en op sosiale vlak kan daar ook geen apartheid tussen Joodse en nie-Joodse Christene wees nie (Gal 2:11-14). Ten spyte van sy herhaalde argumente dat Jood en nie-Jood in Christus een is, en dat nie-Joodse gelowiges ingesluit is in die nuwe volk van God (Ef 2:14, 19), praat Paulus nie van die nuwe geloofsgemeenskap in Christus as “die ware Israel” nie (Campbell). Daar is by hom ’n terughou­dendheid om die term “Israel” te gebruik vir nie-Jode, ook al is hulle gelowige volgelinge van Jesus.

‑   ’n Soortgelyke reserwe kry ons by die sinoptiese* Evangelies*. Hulle praat nêrens van die kerk as die “ware Israel” nie. By hulle verwys die term deurgaans na die volk (of soms) na die land Israel. ’n Moeiliker vraag om te beantwoord, is of die Evangelies, al praat hulle nie van die kerk as die “ware Israel” nie, tog wel impliseer dat die kerk Israel vervang het. Dit is wel so dat die Evangelies soms krities oor Israel en die Jode praat. Die gelykenis* van die boere en die wingerd (Matt 21:33) suggereer dat God die wingerd (die volk van God) sal wegvat van die oorspronklike eienaars (Israel) en dit aan ander (Jesus se volgelinge) sal gee. In Markus* speel die ontknoping van die verraad van Jesus en sy kruisiging* ’n belangrike rol in die Evangelie se storielyn. Jesus se dissipels* se ontrou word beklemtoon en gekontrasteer met nie-Jode se insig in wie Jesus is, bv die offisier by die kruis (Mark 15:39). Sommige sien hierin ’n verwerping van Israel. Ander (Elliott) sien dié kontras eerder as ’n kontras tussen God se trou ten spyte van die dissipels se ontrou. Markus sê nêrens dat God Israel finaal verwerp het nie. Matteus* beklemtoon die konflik tussen Jesus en die Fariseërs* (Gundry) en die Christelike geloofsgemeenskap (hy is die enigste van die Evangelies wat die woord ekklésia, “kerk”, gebruik). Trilling sien hierin ’n bewys dat vir Matteus die kerk die ware Israel is (die titel van sy boek). Tog is dit opmerklik dat ook Matteus nêrens eksplisiet iets oor Israel se verwerping sê nie. By Matteus is dit eerder ’n geval dat die Christene as ’n “derde ras” naas Israel en die heidene*, beklemtoon word, meen Elliott. Lukas (en Handelinge) be­klemtoon hoe God se openbaring langs historiese lyne verloop: God openbaar Hom aan Israel, dan aan die Jode. Daarom meen Conzelmann dat die kerk implisiet Israel as die ware Israel vervang. Lukas se weergawe van die Fariseërs en Joodse leiers is negatief, maar hy gebruik nooit die term Israel wanneer hy oor die leiers praat nie. Ook by Lukas lyk dit dus asof daar aan die een kant sterk klem gelê word dat ná Christus die kerk die nuwe volk van God is, hoewel dit nie eksplisiet gesê word dat God sy beloftes aan Israel opgesê het nie.

‑   Latere Nuwe-Testamentiese geskrifte boekstaaf die proses wat uit die ge­gewens hierbo blyk. Met verloop van tyd word die vroeë Christendom* se kollektiewe bewus­syn van ’n historiese band met Israel al hoe swakker. In Op 7:4-8 verskyn verteenwoordigers van die twaalf ­stamme voor God se troon*, maar Israel is hier klaarblyklik die kerk. In 1 Pet 2:9 word die Christene beskryf as “die uitverkore volk, ’n koninklike priester­dom*, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God”. Volgens Heb 8:7-13 is die ou verbond* “oud en uitgedien” en op pad om “gou (te) ver­dwyn”.

‑   In die tyd na die Nuwe Testament word die afstand tussen kerk en Israel al hoe groter. In die apostoliese vaders se geskrifte is dit net die Barnabasbrief wat die verhouding kerk-Israel tematies be­handel – en sy raad aan lesers is om hulle van die Joodse interpretasie van die Bybel te distansieer ter wille van ’n allegoriese* lees van die Bybel. Behalwe vir ’n handjievol frases, gee die vroeg-Christelike literatuur van 150 nC en later min blyke van ’n besef van die band met die historiese Israel.

‑   Hoewel dit dus duidelik is dat in die Nuwe Testament die nuwe volk van God uit almal bestaan – Jode en nie-Jode ingesluit – wat in Christus* glo, en dat dié nuwe geloofsgemeenskap die voer­tuig van God se genade* word, is dit tog merkwaardig dat die vroegste Nuwe-Testamentiese skrywers hulle daarvan weerhou om te sê dat die kerk die “ware Israel” is, selfs in diskoerse waarin ’n leser dit sou verwag. Dit is waarskynlik die gevolg daarvan dat die meeste Nuwe-Testamentiese skrywers Paulus se oortuiging gedeel het dat God sy roeping van Israel nie kan terugtrek nie, en dat “die hele Israel” op dieselfde manier as nie-Jode gered sal word (Rom 11:29, 25). Vanaf ongeveer 80–100 nC begin die historiese bewussyn dat God se roeping van Israel steeds geldig is, onder die vroeë Christene verswak.

Vir verdere lees: K Barth 1957. Church Dogmatics II/2. Edinburgh: Clark. WS Campbell 1993. “Israel” in: GF Hawthorne (red), Dictionary of Paul and his Letters. Downers Grove: IVP. CEB Cranfield 1979. The Epistle to the Romans. Edinburgh: Clark. MA Elliott 1992. “Israel” in: JB Green (red), Dictionary of Jesus and the Gospels. Downers Grove: IVP. RH Gundry 1982. Matthew. Grand Rapids: Eerdmans. W Trilling 1964. Das wahre Israel. München: Kösel. NT Wright 1992. The New Testament and the People of God. Minneapolis: Fortress.

 

Sidebar