ISRAEL

ISRAEL. Die naam Israel (dit beteken in Hebreeus* letterlik “God het geworstel”) word in verskillende kontekste gebruik.

 

Ou Testament:

  1. ‑Ná sy worstelstryd met die man by die Jabbok* word in Gen 32:28 aangedui dat Jakob* eerder Israel genoem sal word. Hierdie benoeming versterk natuurlik die assosiasie dat Jakob die pa van die twaalf seuns was wat uiteindelik die twaalf stamvaders van die volk Israel sou word.
  2. ‑Die naam Israel word ook gebruik om na die volk van God te verwys. Dit is onse­ker van wanneer af, en tot wanneer toe, hierdie groepering as “Israel” bekend ge­staan het. Die eerste vermelding van “Israel” kom voor in die Egiptiese inskripsie van Merneptah wat normaalweg rond­om 1200 vC gedateer word. Hier was reeds sprake van ’n groepering mense wat onder die naam “Israel” bekend was, maar dis onseker hoe hierdie groep saamgestel is. Bybelwetenskaplikes en historici is dit vandag redelik eens dat die volk Israel nie van die tyd van Egipte* af as eenheid bestaan het nie, maar dat dit eintlik eers kort vóór die opkoms van die monargie gebeur het dat ’n aantal groepe van verskillende oorsprong ’n gesamentlike identiteit begin ontwikkel het. Hierdie “volk” sou onder andere ’n sogenaamde Moses*-groep insluit wat die tradisies oor die uittog* uit Egipte, asook die aanbidding van Jahwe* alleen, verteenwoordig het. Die identiteit van hierdie saamgestelde volk is veral ge­vorm rondom die Jahwistiese mono­teïs­me*. Hoewel die koninkryk van Israel (sien hierna) later in twee sou skeur (Israel en Juda), sou die benaming van God se volk as “Israel” deur hierdie tydperk sowel as die ballingskap*, tot in die na-ballingskapse tyd voortduur. Kronie­ke* gebruik bv steeds die uitdrukking “die hele Israel” wanneer na God se volk verwys word. Ons weet egter dat die na-ballingskapse tyd die geboor­te­tyd van die Judaïsme* was. Algaande sou mense nie meer van Israel praat nie, maar eerder van Jode*. In hierdie selfde verband word die gebied waar hulle gewoon het, dikwels Israel genoem.
  3. ‑Die verenigde koninkryk wat onder Saul*, Dawid* en Salomo* bestaan het, het die naam Israel gedra.
  4. ‑Toe die koninkryk egter aan die einde van Salomo se regeringstyd skeur, is die naam Israel gebruik om na die noordelike tienstammeryk (met Samaria* as hoofstad) te verwys. Die suidelike twee­stam­me­ryk sou onder die naam Juda* bekend staan. Die noordelike Israel kom egter in 722 vC tot ’n einde toe die Assiriërs* hulle in ballingskap*1 wegvoer. By baie ballingskapse profete* en ander godsdienstiges het die hoop bestaan dat Jahwe weer die oorspronklike koninkryk van Israel sou oprig met ’n Dawidiese nasaat as koning. Dit het egter nooit gebeur nie.
  5. ‑Ná die vrylating uit ballingskap onder die Persiese heerser Kores*, sou die oorspronklike koninkryk Israel, maar nie in die sin van die verdeelde koninkryke Israel en Juda nie, heropgerig word. ’n Persiese provinsie met die naam Jehud* (min of meer in die gebied van die koninkryk van Juda) word geproklameer. Die inwoners van Jehud sou hulleself sien as die voortsetting van “die hele Israel” van die tyd van Dawid en Salomo. Algaande sou hulle egter ’n Joodse identiteit ontwikkel.

 

Sidebar