JABAVU, JOHN NTENGO

JABAVU, JOHN NTENGO (1859–1921) was ’n Xhosa van Ciskei. Soggens vóór skool by die Healdtown-sendingstasie het hy by ’n plaaslike koerant gewerk. Hy het hom as talentvolle skrywer bewys en is deur die redakteur van die Cape Argus versoek om gereeld artikels vir dié dagblad te lewer. Terwyl hy by die Lovedale*-opleidingsentrum was, is hy aangestel as redakteur van die kollege-koerant Isigidimi sama Xhosa. Op 24-jarige ouderdom het Jabavu sy matrieksertifikaat verwerf en daarmee die tweede swartman in die land geword wat gematrikuleer het.

Dit het hom aangespoor om sy eie koe­rant, Imvu Zabantsundu (Mening van die mense), te stig. Daarin het hy hom ten guns­te van gelyke geleenthede vir alle swart- en witmense in Suid-Afrika uitgespreek. Hy het swart oorheersing, asook gewelddadige beto­gings, afgekeur. Omdat Jabavu ’n gelowige Christen* was, het hy heelwat plek aan Bybel*besprekings in sy koerant afgestaan.

Jabavu het hom meer tuis in die geledere van liberale Afrikaners* as by die Britse Empire-bouers gevoel. Hy het gesprekke met die leier van die (destydse) Afrikanerbond, Onze Jan Hofmeyr*, aangeknoop. Tydens die Anglo-Boereoorlog* het die Britte se verskroeide aarde-beleid en die sterftes van die duisende vroue en kinders in die konsentrasiekampe, Jabavu ontstel. Sy koerantartikels was so ’n verleentheid vir die imperialiste dat hulle Imvu Zabantsundu op 27 Augustus 1901 ingevolge Krygswet gesluit en Jabavu aangehou het.

Ná sy vrylating het hy na die onderwys teruggekeer en hom op die opvoeding van sy mense toegespits. Deur sy toewyding is die Universiteit van Fort Hare in 1916 gestig.

As lekeprediker van die Metodistekerk* het hy tot sy dood die Woord* onder die Xhosa verkondig. Sy invloed het ’n betekenisvolle bydrae gelewer tot die politieke bemagtiging van die swart bevolking en die stigting van die African National Congress (ANC). In 2006 is die Orde van Luthuli (goud) postuum aan Jabavu toegeken. (Kyk ook: Xhosas en die Christelike geloof.)

 

Sidebar