JACKSON, CORNELIUS JOHANNES (NEELS)

JACKSON, CORNELIUS JOHANNES (NEELS) (1961–) is in Potgietersrus, nou Mokopane, gebore, behaal BA, HOD en BA (Hons) (Afrikaanse letterkunde) aan die Universiteit van Pretoria, hou drie jaar lank skool en word in 1990 joernalis by die dagblad Beeld. As joernalis werk hy op verskeie terreine met sy hooftaak van die begin af  verslaggewing oor kerklike en godsdiens­tige kwessies. Hy doen indiepte-verslagge­wing en maak naam as ’n ingeligte, verantwoordelike en kundige verslaggewer van godsdienssake wat goeie betrekkings met ’n groot aantal teoloë en kerkleiers van verskillende denominasies handhaaf. In 2013 het hy ’n veertjie van die Afrikaanse Taal-en-Kultuurvereniging (ATKV) ontvang en ook ’n spesiale toekenning van die Andrew Murray-prysfonds* vir sy hoogstaande verslaggewing oor baie jare. In Desember 2013 word hy die 21ste redakteur van die NG Kerk* se amptelike blad, Kerkbode*. In dié tyd publiseer hy Op soek na Jesus. ’n Verslaggewer se verrassende perspektief op die lewe van Jesus en Ek kies steeds die kerk. Stories, stryd en standpunte oor die kerk en die wêreld. Jack­son is hoofmedewerker: algemene sake van die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE).

 

Sidebar