JAHWE (JHWH)

JAHWE (JHWH) (ook die tetragrammaton genoem) is die amptelike Naam van die God van Israel*. Die Afrikaanse Bybel* vertaal hierdie naam met “die Here”. Dat “Jahwe” die manier is waarop die tetragrammaton uitgespreek moet word, is nie meer seker nie, omdat die Hebreeuse* taal aanvanklik net konsonante bevat het sonder vokale. “Jahwe” is ’n uitspraak-konvensie wat herlei kan word na die Griekse* Iabe/Iaoue. ’n Verkeerde uitspraak-konvensie wat deur sommige nagevolg word, is “Jehowa”. Laasgenoemde is in der waarheid ’n kombinasie tussen die konsonante van JHWH en die vokale van ’n ander aandui­ding van God se naam, naamlik Adonai*. Dit het gebeur toe Joodse* geleerdes (die sg Masorete*) ongeveer in die 10de eeu vC, as gevolg van huiwerigheid om die naam JHWH uit te spreek, begin het om die naam JHWH te lees met die vokale van Adonai.

Die Godsnaam Jahwe kom in verskillende vorms in die Ou Testament* voor. Die mees gebruiklike een is die sg lang vorm JHWH (6 828 keer). Daarbene­wens het daar in liturgiese kontekste ook verskillende kort vorms van die naam bestaan: JHW of JHH (wat miskien as “Jahu” uitgespreek moet word). ’n Voorbeeld hiervan is Eks 15:2 waar daar staan: “Jah (dit is Jahwe) is my krag en my beskerming”. Die element “Jah” is ook nog aanwesig in die lof-uitroep: hallelu-jah (Kyk by: Halleluja): “prys Jah/Jahwe’. Verder is dit ook bekend dat die Joodse kolonie in Egipte*, Elefan­tine (5de eeu vC), God onder die naam Jah aanbid het. Korter vorms van die naam Jahwe verskyn ook nog in persoonsname: aan die begin van sulke name as yehô (Jehosua> Josua*), of as saamgeperste vorm yô (Joas*); aan die einde van die name as yahû (Jesayahû >Jesaja*), of as yah (AdoniyÇh>Adonia*).

Alle Semitiese* (en Hebreeuse*) name het betekenisse gehad. Oor wat die naam JHWH beteken, is daar nie sekerheid nie. Gewoonlik word dit verbind met die Hebreeuse/Aramese* woord HJH/HWH “om te wees”, waarop ook in Eks 3:14 gesinspeel word. As Moses vir die Here vra wat sy Naam is, kom die antwoord: “Ek is (ehjeh) wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ (ehjeh) het my na julle toe gestuur.”

Ook oor die oorsprong van die naam word wyd gedebatteer. Sommige geleerdes is van oordeel dat die lied van Debora* (Rig 5) van die oudste voorkomste van die naam bevat. Die naam kom wel ook voor in buite-Bybelse geskrifte soos die Mesasteen (9de eeu vC) en op briewe en ostraka van die 8ste tot 6de eeue vC in Palestina. Die voorkoms daarvan in die Mesasteen is inte­ressant. Daar kom die letters van die Gods­naam net so voor soos in die Ou Testament (Kyk by: Mesa).

’n Aantal tekste in die Ou Testament dui daarop dat Jahwe die God was wat in die tyd van Moses* in die suide van Palestina* (in die destydse Midian* en Edom*) aanbid is. In dié opsig het die Keniete en Midia­niete* ’n belangrike rol gespeel. Daar word b­v in Eks 18:10-12 vertel dat Mo­ses* se skoonpa ’n Midianitiese priester was wat in Jahwe se diens was. Die skoonpa het behoort tot die Keniete aan wie die Midia­niete verwant was. Daar is talle verwysings wat nog op hierdie suidelike assosiasie van Jahwe dui. Jahwe word bv ver­bind met Sinai*2, Seïr, Paran, wat almal ber­ge was in die omgewing van Edom* en Midian* in die suide. Deut 33:2 sê bv: “Die Here kom van Sinai af, Hy laat van Seïr af sy lig oor sy volk skyn, laat dit deurbreek van die Paranberg af” (vgl ook Rig 5:4; Hab 3:3).

As die uittoggroep onder leiding van Moses Egipte* verlaat op hulle reis na Palestina*, word hulle vergesel van Jahwe as hulle God. Wat daarna in Palestina gebeur het, veral met die stryd tussen die Jahwiste (navolgers van Jahwe) en die Baäliste (navolgers van die Kanaänitiese god, Baäl*), kan uitvoerig in die Koningsboeke en in die profetiese geskrifte nagelees word.

Wat egter vir die Israeliete belangriker was as om die betekenis en geskiedenis van die naam Jahwe te weet, was hoe hierdie God Homself in hulle geskiedenis openbaar het. Hieroor is daar by die Bybelskry­wers geen twyfel nie. God is die koning by uitnemendheid. In sy heilige hemelse vergadering is alle gode aan Hom onderdanig (Ps 89:8); sy mag en gesag oor die hele skepping is duidelik (Ps 82). Daar word voorts van Hom gesê dat Hy “die Een is wat deur die hemel ry” (Deut 33:26); “… die Een wat op die wolke ry” (Ps 68:5); “… die Een wat deur die hemel ry, die hemel wat van die begin af daar is” (Ps 68:34). As samevatting van al hierdie kosmiese magte word Jahwe genoem: “Jahwe van die leërskare/Jahwe die Almagtige” (1 Sam 4:4). In die tweede deel van 1 Sam 4:4 word gewag gemaak van ’n ander kwaliteit van Jahwe: Hy is ook “die Een wat oor die gerubs* troon”. Dit verwys na die koninklike majesteit van Jahwe. Met reg vra ’n ander digter: “Wie van die gode is soos U, Jahwe? Wie is soos U, so hoog geeër en heilig?” (Eks 15:11.)

Elders word Hy met ander eienskappe in verband gebring: in Rig 6:24 word Gideon se altaar “Jahwe shalom” genoem, wat vertaal kan word as: “Jahwe is/gee vrede.” Vir hulle wat beangs is, is Jahwe soos die naam van Moses se altaar: “Jahwe is my banier” (Eks 17:15). Met ander woorde, Jahwe gee die oorwinning. Al hierdie kwaliteite van Jahwe het vir die Israeliet net een ding ingehou, naamlik dat Jahwe die Enigste is en dat daar naas Hom aan geen ander god erkenning gegee kan word nie. Daarom word elkeen in Eks 34:14 op die hart gedruk: “Jy mag nie ’n ander god vereer nie, want die Here se Naam is Jaloers, ’n God wat onverdeelde trou eis is Hy.”

Die naam Jahwe kom weinig in die Ou-Testamentiese wysheidsboeke voor. In die hele boek Prediker* glad nie en enkele kere in Job*. Dit moet verstaan word teen die agtergrond van die feit dat die wysheid tradisioneel meer algemene benamings vir godhede gebruik het.

Vir verdere lees: K van der Toorn 1995. “Yahweh” in: K van der Toorn et al (red), Dictionary of Deities and Demons in the Hebrew Bible. Leiden: Brill.

Sidebar