JAKOB

JAKOB is ’n aartsvader* en die stamvader van die twaalf stamme van Israel*2. Hy was die seun van Isak* en Rebekka* en die twee­lingbroer van Esau*. Jakob het by ge­boorte aan sy broer se hakskeen vasgehou. Sy naam klink na die Hebreeuse* woord vir hakskeen (Gen 25:26), maar die naam word later met die woord vir bedrog/bedrieër verbind wat tekenend van sy lewe was. God het reeds vóór Jakob se geboorte gesê dat Esau Jakob sal dien, die oudste vir die jongste. Jakob was ’n rustige mens wat graag by die tente gebly het, sy ma Rebekka se gunsteling.

Jakob het Esau se eersgeboortereg by hom geruil vir ’n bord kos en later met Re­bek­ka se hulp ook vir Isak bedrieg, om die seën van die eersgeborene te verkry. Hy vlug na Haran* en op pad by Bet-El* verskyn God aan hom in ’n droom en bevestig die beloftes van ’n land, nageslag en be­skerming.

Jakob werk by sy oom Laban* vir Lea* en Ragel* en ná twintig jaar keer hy terug na Kanaän*, met sy vroue en kinders. Saam met Ragel en Lea het hy ook twee byvroue gehad, Bilha* en Silpa*. Die vroue het altesaam twaalf seuns en ’n dogter vir hom gebaar (by Lea: Ruben*, Simeon*, Levi*, Juda*, Issaskar, Sebulon* en Dina*; by Ragel: Josef* en Benjamin*; by Bilha: Dan* en Naftali*; by Silpa: Gad* en Aser*).

Terug in Kanaän* maak hy vrede met Esau en het hy ’n vreemde ontmoeting by die Jabbok*. Jakob het die hele nag met ’n onbekende persoon geworstel, wat hom op sy heupbeen geslaan het. Sy naam word verander na Israel* want: “… jy het teen God en teen mense ’n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou” (Gen 32:28). Jakob sterf uiteindelik in Egipte* (Gen 49:29-33) nadat sy seun Josef* hom laat haal het, maar hy word in Kanaän* begrawe (Gen 50:1-14).

 

Sidebar