JAKOBUS (BYBELBOEK)

JAKOBUS (BYBELBOEK). Vanweë sy besonderse karakter en die onsekerheid oor die outeurskap daarvan, is die brief* van Jakobus eers laat as Bybel*boek aanvaar. In die tyd van die Kerkhervorming* het Luther* moeite gehad met Jakobus se stelling dat geloof* sonder werke dood is (2:17), omdat ons volgens die Romeine­brief* deur geloof alleen gered word. Jak 2:17 beweer egter nie dat werke ’n mens kan réd (Kyk by: Redding) nie. Daar staan net dat ’n lewende geloof werke voortbring.

Die Jakobusbrief stam uit ’n periode van oorgang na ’n nuwe vorm van Christelike* geloof*. Die skrywer roep sy lesers op tot begrip vir die Joods*-Christelike gemeenskap, waarin die wet* nog ’n belangrike rol speel. In Jakobus word praktiese temas bespreek: die houding teenoor rykdom*, die beheer­sing van die tong, die eed*, die Christelike gebed* en die dwaling van ’n ortodoksie* sonder toepassing in die praktyk.

Skrywer van die brief: Volgens die tradisie is die Jakobusbrief deur Jakobus*2, broer van Jesus*, geskryf. Omdat Jak 1:1 weinig inligting oor die skrywer verskaf, moes hy aan sy lesers bekend gewees het. Dat hy ’n goeie kennis van die Ou Testa­ment* gehad het, blyk uit baie indirekte verwysings na die Ou Testament, spore van die Hebreeuse* idioom en die Hebreeuse styl. Ook uitdrukkings soos “die Here van die leërskare” (5:4, 1933/1953-Afrikaanse Vertaling), die nadruk op die Joodse wet (2:9-11; 4:11-12), en die eenheid van God (2:19), wek die indruk dat dit deur iemand van Joodse* afkoms geskryf is.

Ooreenkomste tussen die taalgebruik in die Jakobusbrief en Hand 15:13-21 sou op Jesus se broer kon wys. Daar is ook ooreen­komste met Jesus se leer in die Bergrede* en elders. Verder is die toestand in die sa­me­lewing waarin die skrywer hom bevind het, dieselfde as dié van die periode toe Jesus se broer gelewe het. Die onderdruk­kers is die ryk grondbesitters in Judea* wat ná die verowering van Jerusalem* verdwyn het (Jak 5:1-6). Ook die onderlinge stryd en rusies in Jak 4:1 stam uit Jakobus se tyd. Hoewel daar geen sekerheid oor die skry­wer is nie, aanvaar die meeste geleerdes wel dat dit Jesus se broer Jakobus was.

Ontvangers van die brief: Die brief is geskryf aan “die twaalf stamme wat oor die wêreld verstrooi is” (Jak 1:1). Saam met die gebruik van die Joodse woord vir “same­koms”, sinagoge* (Jak 2:2), suggereer dit waarskynlik Joodse Christene. Daar is skynbare teenstellings tussen Jakobus en Paulus* wat ’n mens nie in die lig van hulle verhouding, soos dit in Galasiërs* en in Hande­linge* beskryf word, verwag nie. Hierdie teenstellings is net verklaarbaar vanweë hulle onderskeie werkterreine: Jakobus on­der die Christene* van Joodse en Paulus onder dié van heidense* afkoms. Ten tye van Hand 15 was die Christendom* nog ’n Joodse sekte*. Binne die Jodedom was daar verskillende interpretasies van die wet. Die Jood­se Christene het die wet gehou, moont­lik met die oog op sending* onder hulle mede-Jode, maar het dit nie van nie-Joodse Christene verwag nie. Hulle moes net ’n viertal reëls respekteer. Daarom wys Jakobus die Joodse Christene op die belang­rikheid van die wet, terwyl Paulus beklemtoon dat die geloof, waardeur heidene deel kan word van die Joods-Christelike tradisie, die Christen red (Hand 15:11).

Datering: Die Apostelkonvent (Hand 15) het tussen 48 en 50 nC plaasgevind. As hierdie brief deur Jakobus geskryf is, is dit moontlik vroeër geskryf, omdat dit nie na die konvent verwys nie. Sommige teoloë oordeel egter dat so ’n verwysing nie nodig is nie, en dat die brief dus van ’n later datum sou kon wees.

Sidebar