JANNASCH, FRIEDRICH WILHELM

JANNASCH, FRIEDRICH WILHELM (1853–1930) is op Mamre gebore as seun van ’n Duitse Morawiese* sendeling*. Hy ontvang sy skoolopleiding by Christiansfeld in die huidige Denemarke. Hy begin as vyftienjarige met orrellesse aan die Koninklike Sweedse Musiekakademie in Stockholm. Hierna studeer hy verder in Berlyn en Breslau in Duitsland. Hy was van 1872 tot 1882 onderwyser in die Morawiese gemeenskap te Gnadenfrei in Schlesien.

NJ Hofmeyr* van die Stellenbosse Kweek­­skool* werf Jannasch in 1883 om ’n musiekskool op Stellenbosch tot stand te bring. Saam met vier ander plaaslike en buitelandse musici, waaronder die Oos­tenryker Hans Endler, stig hy in 1905 die Zuid-Afrikaansche Conservatorium voor Muziek – tans die Departement van Musiek van die Universiteit van Stellenbosch. ’n Jaar later is ’n gebou met ’n konsertsaal in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, volgens sy planne opgerig. Hy tree in 1921 as direkteur af.

Hy was van 1887 af tot met sy dood in 1930 orrelis en koormeester van die Stel­lenbosse Moederkerk. Prof Jannasch het ook talle koorwerke en orrelstukke gekomponeer en ’n aantal van Totius* se Psalm­berymings getoonset. Sy gewilde melodieë van Ps 23, 90 en 91 word steeds gebruik. Hy het self ook heelwat oor kerkmusiek ge­skryf.

Vir verdere lees: RE Otterman 1971. Friedrich Wilhelm Jannasch en sy invloed op die kerkmusiek van die NG Kerk. Stellenbosch: Ongepubliseerde doktorale proefskrif. IJ Grové (hoofred) 2005. Konser­va­torium 1905–2005. Stellenbosch: African Sun Media.

Sidebar