JANSON, WILLIAM JOHN MURRAY

JANSON, WILLIAM JOHN MURRAY (1928–2002) het op Lichtenburg gematrikuleer en aan die Universiteit van Pre­toria ’n doktorsgraad in teologie* en ook ’n meestersgraad in kliniese sielkunde behaal. Hy was onder andere lank die predikant van die NG gemeente Lynnwood in Pre­toria (1963–1977) en het in daardie tyd wyd bekend geword as prediker wat die Skrif* op ’n treffende manier kon uitlê, was hoog­leraar in praktiese teologie aan Unisa, en het ’n tyd lank as kliniese sielkundige ge­prak­tiseer. Dit was egter as pastor dat hy die bekendste geword het – onder meer deur jare lank die rubriek “Sake van die hart” in die weeklikse gesinstydskrif Huisgenoot te behartig.

Janson en sy kollegas het geweldige teenstand beleef toe hulle die dienste wat in die 1970’s in Lynnwood vir huishulpe in garage’s gehou is, na die kerksaal (nie eens die kerkgebou nie!) wou skuif. Sy vrae oor die kerklike en landsbeleid van apartheid* het meermale spanning gebring – dit is waarskynlik die rede waarom hy nooit na ’n kerklike teologiese fakulteit beroep is nie, en dat hy in 1976 uit die Noord-Trans­vaalse moderatuur, waarin hy toe as skriba gedien het, gelaat is. Hy het ook ’n beroe­ring veroorsaak toe hy op ’n keer vroue se dra van hoede na eredienste as onnodige swier bestempel het.

Janson het verskeie trefferboeke geskryf, onder meer Man van Us (oor Job), Dogters van Eva (oor die vrou se plek in die kerk), en laat in sy lewe ’n werk waarin hy die Godheid en uniekheid van Jesus* teen die Jesus-seminaar* en hulle meelopers verde­dig het. Sy outobiografie, My nalatenskap – Die kuns om gelukkig te lewe, het kort ná sy dood verskyn.

Vir verdere lees: Murray Janson 2003. My nalatenskap – Die kuns om gelukkig te lewe. Wellington: Lux Verbi.BM.

 

Sidebar