JASPERS, KARL THEODOR

JASPERS, KARL THEODOR (1883– 1969). Jaspers was een van die bekendste verteenwoordigers van die eksistensiefilosofie* in Duitsland in die loop van die 20ste eeu. Hy is opgelei as ’n medikus en psigiater, en het in 1913 ’n handboek oor psigiatrie ge­skryf. Van 1921 tot 1937 was hy professor in filosofie aan die Universiteit van Heidel­berg. Die Nazi’s* het hom in 1937 van sy pos onthef omdat hy met ’n Jodin getroud was. Hy is in 1945 heraangestel as professor in Heidelberg, maar het uiteindelik in Basel, Switserland, tereg gekom.

Sy geskrifte is minder kompleks as dié van sy beroemde tyd- en landgenoot, Mar­tin Heidegger*. Hy vind nie bestaansver­vulling in die Christelike geloof nie, maar in wat hy noem die synsekerheid wat ons ervaar wanneer ons in aanraking kom met die Transendente. Daarvoor word ’n hou­ding of instelling van vertroue en ontvanklikheid vereis, ’n houding wat hy aandui met die term “filosofiese geloof”. Hierdie ge­loof kom veral na vore in wat Jaspers die grenssituasies van die menslike bestaan noem, bv waar ons in aanraking kom met skuld, angs of die dood. Hoewel ons die Transendente nie kan ken nie, vind ons geborgenheid in die vertroue in en verbintenis aan dít wat groter is as onsself.

Vir verdere lees: M Grene 1970. Introduc­tion to Existentialism. Chicago: The Univer­sity of Chicago Press.

Sidebar