JEREMIA (BYBELBOEK)

JEREMIA (BYBELBOEK) vorm deel van die drie groot profeteboeke van die Ou Tes­ta­ment*. Die boek hou direk verband met die profeet* Jeremia* wat volgens tradisie verantwoordelik was vir die inhoud van die boek. Jeremia het sy profetiese woorde deur sy sekretaris Baruk* laat opskryf. Volgens Jer 36 het koning Jojakim* die boekrol verbrand. Daarna het Jeremia dit weer aan Baruk gedikteer en dit het uiteindelik die boek Jeremia gevorm.

Die ontstaan van die boek is egter meer gekompliseerd as hierdie voorstelling. Die samestelling en die kronologie van die boek is ingewikkeld en gee aanleiding tot heelwat debat. Standpunte wissel van die toeskryf van die hele boek aan die profeet Jeremia tot ’n samestelling daarvan deur die volgelinge of tradisie van Jeremia. Die ander uiterste is om die boek as ’n literêre skepping te sien waarin die profeet Jeremia bloot ’n karakter en dus nie ’n historiese figuur is nie. Benewens die komplekse sa­me­stelling van die boek, verskil die He­breeuse* teks ook van die Septuaginta*-teks. Nie alleen is die Septuaginta 2 700 woorde korter nie, maar die twee teksuitgawes verskil ook in die volgorde waarin die materiaal in die boek gerangskik is. Daar is ook aanduidings in die teks dat persone wat die verbondsteologie van die boek Deuterono­mium* wou beklemtoon, die boek verwerk het.

Samestelling van die boek: Dit is duidelik dat die boek Jeremia uit verskillende versamelings literatuur bestaan. Oor die algemeen word die eerste 25 hoofstukke aan Jeremia self toegeskryf en is hoofsaaklik profesieë van oordeel oor die volk van die Here*. Dit is egter opmerklik dat hierdie versameling nie eenvormig is nie. Groot gedeeltes poëtiese materiaal word afgewissel deur prosagedeeltes wat soms ’n preekstyl vertoon. Die eerste hoofstuk skets die roepingsverhaal van die profeet. Verder kom daar ook verspreid in hierdie versameling ’n aantal poëtiese gedeeltes voor in die styl van klaagpsalms waarin die profeet sy lot bekla. ’n Verdere twee versamelings in hierdie 25 hoofstukke bevat oor­deels­boodskappe oor die konings (21:1– 23:8) en oor die vals profete (23:9-40).

Die volgende hoofdeel (hoofstuk 26–45) van die boek bestaan uit verhale oor die beleëring en inname van Jerusalem* en groot dele biografiese materiaal oor die lewe en lotgevalle van die profeet Jeremia. Dit is hoofsaaklik in prosastyl geskryf en word dikwels aan Baruk toegedig. Binne hierdie hoofdeel word ’n kleiner versame­ling van gedigte gevind wat handel oor die toekomstige herstel van Juda*4. Dit word die “klein troosboekie” (Jer 30–33) genoem. Die verhalende gedeeltes vertel heelwat oor die lewe van die profeet, sy konflik met die konings en sy aanhouding eers in ’n put en later in die wagte se kwartiere in die paleis. Dit berig ook oor Jeremia se uiteindelike weg­voering deur sy eie mense in hulle vlug­tog na Egipte*.

’n Laaste hoofdeel (hoofstuk 46–51) in poëtiese styl, bevat oordeelsprofesieë oor die nasies wat Israel*4 en Juda*4 bedreig het. Die boek eindig op ’n negatiewe noot met die koning van Juda in ballingskap* in Babel* en geen koning op die troon in Jeru­salem nie.

Historiese agtergrond van die boek: Die boek speel af tydens die regerings van verskeie konings: Josia*, Joahas*, Jojakim*, Jojagin* en Sedekia*. Jeremia is waarskynlik in 626 vC as profeet geroep. Die Babilo­niërs* was die wêreldmag wat in dié stadium oorheers het. In 587/6 vC het Jerusalem in hulle hande geval en ’n groot deel van die bevolking van Juda is in ballingskap weggevoer. Die boek berig ook oor die aanstelling van Gedalja* deur die Babilo­niërs as goewerneur van Juda, die moord op hom en die vlugtog van anti-Babiloniese Judese mense na Egipte.

Die boodskap van die boek: In breë trekke handel die boek Jeremia oor oordeel oor Juda en die omringende volke. Daar is egter ook gedeeltes wat heil vir Juda in die toekoms aankondig. Die boek Jeremia vertoon twee perspektiewe. Die eerste perspektief is van diegene wat nie in ballingskap gegaan het nie, en weerspieël hulle belewenis van die verloop van die geskiedenis vanuit Juda. Daar is egter ook ’n balling­skap­se perspektief in die boek. Hierdie perspektief probeer verstaan wat aanleiding daartoe gegee het dat die volk in balling­skap moes gaan, maar ook hoe die balling­skap verstaan moes word as straf en suiwe­ring ná ongehoorsaamheid aan die Here. Dit vertel ook van die verwagting dat ’n gesuiwerde groep mense uit die balling­skap sou terugkeer na Juda. In kort kan die boodskap van die boek soos volg saamge­vat word: Jeremia beklemtoon dat die Here die enigste God is en dat Hy alleen aanbid moet word. Aanbidding van Baäl* is ver­werplik. Die Here verwag van sy volk om aan Hom alleen lojaal te wees soos die ver­bond* vereis (Jer 2; 10-11; 12:16-17; 13:27).

Die Here word ook beskryf as die Skepper van die wêreld wat mag oor sy eie en ander volke het (Jer 5:24; 10:10-16, 46-51).

Die Here het in ’n verbondsverhouding met sy volk getree en verwag onvoorwaardelike gehoorsaamheid van hulle. Hy sal hulle op sy beurt beskerm en vir hulle sorg. Hierdie verhouding word net soos in die boek Hosea* aan die hand van ’n huweliksmetafoor voorgestel (Jer 2:23). Die Here vereis etiese optrede en hoë morele waardes van sy volk.

Die Here se oordeel oor sy volk is die gevolg van hulle ontrou, bedrog, moord, leuens en uitbuiting van mense (Jer 2:32-37; 5:1-6, 26-29; 6:1-8, 22-23). Die Here verwag van leiers in die samelewing soos die ko­nings, priesters en profete om hoë standaarde te stel en te sorg dat reg en geregtigheid* seëvier. Die leierskap het hierin misluk (Jer 2:8; 5:1-6; 9:1-8).

Die boek Jeremia beklemtoon veral dat die ballingskap die gevolg was van Juda se sonde* en ongehoorsaamheid. Die boodskap was deurentyd dat hulle berou moes hê en na die Here moes terugkeer (Jer 3:1–4:4; 8:4-7; 15:19; 36:7). Jeremia het egter die moontlikheid oopgehou dat die gebro­ke verbondsverhouding herstel kon word, al sou dit beteken dat hulle die loutering van die ballingskap moes deurloop.

Benewens die sterk boodskap van oor­deel, verkondig die boek ook ’n boodskap van heil en herstel vir Juda (Jer 30–33). Hoop vir die toekoms lê in God se genade* en vergifnis. Hy sal ook sorg dat sy volk se vyande tot ’n val kom.

Een van die hoogtepunte van die boek is die aankondiging van die nuwe verbond* (Jer 31:31-34). Die kern van hierdie gedeelte is dat menslike pogings nie die herstel van die verhouding met God kan bewerk of waarborg nie. Die Here sal sy woord en die kennis daarvan in hulle harte en gedagtes vaslê, sodat hulle uit innerlike oortuiging sal weet om reg op te tree en die Here te dien.

Sidebar