JEREMIA (PERSOON)

JEREMIA (PERSOON) is ’n profeet* van wie ons heelwat weet, aangesien meermale oor hom in die boek Jeremia (Kyk by: Jeremia [boek]) berig word. Sommige navorsers meen dat Jeremia ’n denkbeel­dige karakter is wat geskep is om ’n be­paalde teologiese tradisie te verteenwoor­dig, maar daar is genoeg getuienis om hom as ’n historiese figuur te verstaan.

Jeremia het tydens die regerings van vyf konings in Juda opgetree. Hulle was Josia*, Joahas*2, Jojakim*, Jojagin* en Sedekia*2. Hy is in ongeveer 650 vC tydens koning Josia se regering in die priesterstad Anatot gebore. Hy ontvang sy roeping in 626 vC en tree tot en met die val van Jerusalem* in 587 vC op. Jeremia is nooit getroud nie en het as profeet dikwels by die tempel* opgetree. In koning Josia se tyd is ’n kopie van die wet* ontdek, wat waarskynlik die rede is waarom Jeremia so sterk klem gelê het op die verbondsverhouding met die Here. Jeremia se prediking het hom in konflik met die konings gebring wat na sy oordeel in hulle leierskap misluk het. Hy het veral met koning Jojakim gebots, en ook met die priester Pasgur en die profeet Ganaja*. Pasgur en Ganaja het die konings gesteun en was voorstanders van die Sionsteologie. Hulle het in die onvoorwaardelike teen­woor­digheid van die Here* in Sion geglo, wat ’n vals gerustheid tot gevolg gehad het. Jere­mia se sekretaris was Barug* wat sy profetiese woorde opgeskryf het en selfs saam met hom moes skuil weens die vervolging deur veral koning Jojakim.

Jeremia het, anders as die profeet Jesaja*, verkondig dat die mense van Juda*4 hulle aan die Babiloniërs* moes oorgee as hulle wou bly lewe. Baie het Jeremia van verraad beskuldig en hy is gevang en in ’n put gegooi. Nadat hy uit die put gered is, was hy onder huisarres in die koning se paleis. Ná die inval van Jerusalem deur die Babilo­niërs, toe die belangrikste mense van Juda in ballingskap* weggevoer is, is Jeremia onder die sorg van goewerneur Gedalja* in die paleis agtergelaat. In ’n later stadium het van die Jode* na Egipte* gevlug en Jeremia met hulle saamgeneem. Volgens oorlewering is hy in Egipte deur sy eie mense gestenig.

Vir verdere lees: RP Carroll 1985. Jere­miah. Londen: SCM. McConville 2002. Exploring the Old Testament. A Guide to the Prophets. Downer’s Grove, Illinois: IVP.

 

Sidebar