JEREMIAS, JOACHIM

JEREMIAS, JOACHIM (1900–1979), was ’n belangrike Nuwe-Testamentikus van die 20ste eeu. Hy stu­deer Oosterse tale en teo­lo­gie*, behaal die PhD aan die Uni­versiteit van Leipzig (1922) en doseer by Greifswald (1929– 1934) en Göttingen (1935–1968) in Nuwe Testament*. Tydens sy lewe vind groot veranderings in die interpretasie van die Nuwe Testament plaas. Aanvanklik oor­heers Barth*, Bultmann* en die vormhistoriese en redaksiehistoriese metodes die toneel. Jeremias beklemtoon die belang­rik­heid van die eerste eeuse Judaïsme*, en van die historiese Jesus* (Kyk by: Jesus, histo­riese).

Hy skryf (1923) oor Jerusalem* in Jesus se tyd, oor Jesus se nagmaal*woorde (1935) en sê dat die Laaste Awendmaal* basies ’n Paasmaal was. Hy meen die Aramese* agtergrond van Jesus se woorde soos amen en abba dui op Jesus se unieke spraakgebruik. Hy bou op Jülicher en Dodd* se in­ter­pretasie van Jesus se gelykenisse* (1947), en onderstreep die verband met Jesus se boodskap van die koninkryk* van God. Gelykenisse het in verskillende situasies verskillende betekenisse: in Jesus se lewe, in die Vroeë Kerk* en in die literêre konteks van die Evangelies* soos ons dit het. Hy publiseer sy teologie van die Nuwe Testament (volume 1 in 1971) wat net Jesus se verkondiging behandel en nie die afsonderlike Evangelies nie. Hy is meer optimis­ties oor die historiese Jesus teenoor Bult­mann* se groter pessimisme. Waar Jesus se boodskap by Bultmann net die voorveronderstelling van die Nuwe-Testamentiese teologie is, is dit vir Jeremias deel van die Nuwe Testamentiese teologie. Sy werk toon ook dat kritiese metodes nie noodwendig moet lei tot ’n verwerping van meer tradisionele opvattings van die kerk nie.

 

Sidebar