JEROBEAM

JEROBEAM is in die Ou Testament* die naam van twee konings.

  1. Die seun van Nebat en die eerste koning van die noordelike koninkryk van Israel*4 (928–907 vC). Voordat Jerobeam koning geword het, was hy deel van Salo­mo* se koninklike administrasie. Hy het egter teen Salomo se beleid in opstand gekom en gerebelleer. Hy het uiteindelik na Egipte* gevlug om aan Salomo se woede te ontkom. Hy het in Egipte gebly tot en met Salomo se dood voordat hy teruggekeer het na die noordelike Israeli­tiese stamme en koning geword het. Onder Jerobeam se koningskap is daar ’n nuwe godsdienstige en politieke stel­sel ingevoer in ’n poging om hulle onaf­hanklik te maak van die suidelike Dawidiese koninkryk van Juda*4 (1 Kon 12:25-32). Hierdie nuwe godsdienstige be­stel het onder andere die oprigting van twee goue kalwerbeelde (Kyk by: Goue kalf*2) ingesluit (1 Kon 12:28).
  2. ’n Ander koning is Jerobeam II, die seun van Joas* en kleinseun van Jehu*1. Hy het in die 8ste eeu vC ook oor Israel regeer (788–747). Hy word ook, soos die vorige Jerobeam, negatief beoordeel deur die geskiedskrywing van die Ou Testament. Ons weet egter dat Israel onder sy rege­ring ’n ekonomiese bloeitydperk beleef het. Die profesieë van Amos* en Hosea*, wat beide in Jerobeam II se tyd opgetree het, getuig daarvan.
Sidebar