JERUSALEM

JERUSALEM was en is een van die belang­rikste godsdienstige wêreldstede. Dit is hei­lig* vir aanhangers van die Jodendom (Kyk by: Jood), Is­lam* en die Christendom*. Die stad ont­staan in ongeveer 1800 vC en is sedertdien onafgebroke bewoon. Deur die eeue het dit verskillende name gehad. Histories: Jebus*, Dawidstad, Sion*, Aelia Capitolina, Jerusa­lem; Simbolies: Ariël*, Oholiba*. Teologies: Berg/stad van God, heilige berg/stad. Die naam Jerusalem hou verband met die uitdrukking “stad van vrede”.

Histories en kulties was dit sentraal geleë in die Levant op die heuwels van Juda*3. Dit is 50 km oos van die Middellandse See en 30 km wes van die Dooie See se noordpunt. Dit word omring deur die Hinnom*-dal in die suide en weste en die Kidron*-dal in die ooste.

Dit het ontstaan as Jebusiete-vesting (Kyk by: Jebus) in die voor-Israelitiese tyd op die suidoostelike heuwels naby die Gihon*. El* (Gen 14) is hier aanbid. Hierdie gods­diensvoorstellings is in die latere Israelitiese geloof sigbaar. Die vesting word Dawidstad genoem ná Dawid* die stad verower het. As politiese en kultiese hoof­stad verenig Jerusalem die land. Salomo* brei die stad uit na die Ofel- en noordoos­telike heuwels. Hy bou die tempel*1, paleis en ander bouwerke hier.

Ná Salomo se tyd word Jerusalem hoof­stad van die suidryk, Juda*4. Die Dawidiese dinastie vestig ’n sterk regering hier. Ussia* ontwikkel dit as luukse koningstad. Vreem­de godsdienskultusse word deur Hiskia* en Josia* uit Jerusalem verwyder, en die tem­pel* word daarna die enigste aanbiddings­plek in Juda. Tydens Hiskia se regering beleër die Assiriërs* Jerusalem onsuksesvol. Manasse* verstewig die stadsmure. As “Sion*” simboliseer Jerusalem ’n vesting/ huis/berg van God wat oninneembaar is. Hierdie beeld word egter verpletter wanneer die Babiloniërs* Jerusalem (in 597 en 586/7 vC) beleër, vernietig en die inwoners as ballinge na Babilon* neem. Vir ongeveer 50 jaar het Jerusalem ’n verwoeste stad gebly.

In 538 vC keer die ballinge terug. Onder die Persiese bewind herbou Serubbabel* die tempel (520–515 vC) en Nehemia* (in die 5de eeu) die stadsmure. Tydens die Hel­le­nistiese* tyd (vanaf 332 vC) word Jerusalem deur buitelanders beheer, eers Egiptiese Ptolemeërs, dan Siriese Seleukiede. Dit was ’n tyd van vergrieksing en godsdienstige onderdrukking. Antiogus* Epifanes (175– 164 vC) vernietig die stadsmure weer en ontwy die tempel. Ná die Makkabese oorloë word die tempel heringewy (165 vC). In die tydperk wat volg (tot 63 vC toe die Romeinse generaal Pompejus die stad verower het), regeer die Hasmoniërs in ’n onafhanklike Jerusalem. Vanaf 37 vC herbou Herodes*1 die Grote die stad en tempel op ’n glorieryke wyse. Hierdie stad, wat tot 325 nC onder Romeinse (Kyk by: Romeinse Ryk) beheer was, speel ’n sentrale rol in die gebeure rondom Jesus* Christus* en die ontwikkeling van die Christelike kerk*.

Die Romein Titus vernietig Jerusalem se vestings en tempel weer in 70 nC. Hoewel daar nie afdoende bewyse is nie, blyk dit dat daar ’n Joodse teenwoordigheid in die stad was tot ten minste 132 nC. Die Romeinse keiser Hadrianus wy dit in 129/130 nC aan die god Jupiter* en noem Jerusalem Aelia Capitolina. Dit ontlok weer opstand (Kyk by: Bar Kogba-opstande) vanaf 132 nC. Die opstande word in 135 nC onderdruk, en van toe af is Jode lank nie toegelaat om daar te woon nie.

Vanaf die 4de eeu is Jerusalem deur verskeie magte beset: Arabiere, Turke, Kruis­vaarders*, Britte en Israeli’s. Ontwikkelings in die Oustad is aan die Moesliems*, Kruis­vaarders en Suleiman die Pragtige (16de eeu) te danke.

Vir Jode en Christene speel Jerusalem teologies ’n belangrike rol. Die godsdiensgeskiedenis bevestig twee sake: Jerusalem was enersyds simbool van gelowiges se on­trou en ongehoorsaamheid teenoor God. Dit het sy toorn en straf uitgelok. As vervalle stad beeld dit ontrou uit. Andersyds is Jerusalem simbool van God se uitverkie­sing, teenwoordigheid, beskerming en heer­likheid. As stad van God se heerlikheid straal dit skoonheid uit. Vir Christene vloei dit saam in die kruisiging en opstandingsgebeure van Christus in Jerusalem, wat sowel pyn as heling uitdruk.

Spanning tussen die gebrokenheid en die strewe na die ideale werklikheid het die stad se glorie na die toekoms (Jes 1; Matt 23) en na ’n hemelse werklikheid verskuif (Gal 4; Heb 12), naamlik die hemelse Jerusalem. Die Nuwe Jerusalem word vir Christene ’n herlewing van die tuin van Eden* – God se plek van nuwe lewe (Op 21).

Sidebar