JESAJA (PERSOON).

JESAJA (PERSOON). Jesaja (“verlossing van Jahwe*”), seun van Amos (Jes 1:1), was getroud met ’n profetes (8:3) en het twee kinders met simboliese name gehad (7:3; 8:3-4). Hy was moontlik ’n onafhanklike profeet, of het tot die aristokrasie of wysheids­kringe behoort, of miskien selfs uit die priesterstand gekom (vgl 6:1-2; 1:10-17; 2 Kon 18:13-20:21). Hy het wel toegang tot regeringskringe gehad (8:2; 7:3-6; 37:1-2). Sy bediening strek van ongeveer 740 tot 700 vC, dus tydens die koningskap van Ussia*, Jotam*2, Agas* en Hiskia*. Jesaja se boodskap is gebaseer op ’n visioen van die Here*, die Heilige van Israel*. Dus konfronteer hy sondige Israel (6:1 en volgende verse) en verwerp verdrae met ander nasies (7:1 en volgende verse). Terselfdertyd word die koms van Immanuel* aangekondig (7:14). Eenmaal moes Jesaja deur simboliese handelinge (8:18) God se oordeel oor Etiopië/Egipte* uitbeeld (Jes 20). Ná Agas se verdrag met Assirië*, onttrek Jesaja hom aan die openbare lewe (8:16-18). Met Hiskia se troonsbestyging (vgl 14:28) profeteer hy weer. Messiaanse (Kyk by Messias) profesieë is moontlik in hierdie tyd uitgespreek (8:23–9:6; 11:1-9). Hiskia word ook gevra om ’n koalisie te steun wat die Assiriese juk wou afgooi. Jesaja verwerp steeds sulke verdrae (28:15; 30:1-5; 31). Volgens ’n inskripsie beweer koning Sanherib* dat hy Hiskia “soos ’n voël in ’n kou” in Jerusalem toege­sluit het (vgl 2 Kon 18:13-37). Hiskia versoek Jesaja om vir Jerusalem te bid. Die Here spaar die stad (2 Kon 19:4, 34; Jes 37:4, 35). Later kondig die profeet egter die ondergang van die Dawidiese Ryk aan (39:1-8).

Vir verdere lees: CC Broyles en CA Evans 1997. Writing and Reading the Scroll of Isaiah, deel 1 en 2. Leiden: Brill. K Koch 1982. The Prophets, deel 1. Londen: SCM Press. RF Melugin en MA Sweeney 1996. New Visions of Isaiah. JSOT 214. Sheffield: Academic Press.

^^^1

Sidebar