JESAJA

JESAJA (BYBELBOEK). Historiesver­wante ontledings het daartoe gelei dat dié geskrif volgens spesifieke periodes ingedeel is: Proto-Jesaja (1–39), vóór-ballingskapperiode, Assirië*, 8ste eeu vC; Deutero-Jesaja (40–55), tydens-ballingskap, Babilonië*, 6de eeu vC; en Trito-Jesaja (56–66), ná-balling­skap, Persië*, laat 6de eeu vC.

Ander studies het wegbeweeg van ’n eksklusiewe historiesgebaseerde indeling/be­pa­ling van die dokument aangesien dit skynbaar nie volledig binne bepaalde historiese kaders vasgevang kan word nie. Talle resente studies beklemtoon gevolglik by voorkeur die literêre karakter van die boek. Ter illustrasie enkele willekeurige voorbeelde: Die benaming, “die Heilige van Israel*”, domineer hoofstuk 1–6. Dit verskyn een maal in hoofstuk 1 (1:4), drie maal in hoofstuk 5 (5:16, 19, 24) en drie maal in dieselfde teks in hoofstuk 6 (6:3). Die begrip omraam dus hoofstuk 1–6, maar namate die passasies mekaar opvolg, neem die klem op die Naam van God ook toe. Indien opskrifte in die boek as vertrekpunt ge­neem word, volg dit dat Jes 1:1 ’n oordeelprofesie inlui, 2:1 ’n troosprofesie en 13:1 profesieë teen die nasies. Óf Jes 1:1 verskaf ’n inleiding wat oor Juda* of Jerusalem*-Sion of albei en konings handel (1–5), Jes 6 verskaf die eerste hoofoorgang na 7–11 wat oor konings handel (7:1; 8:7; 9:5-6, ens), terwyl hoofstuk 20 die tweede hoofoorgang ná hoofstuk 19 verteen­woordig. Laastens: Jes 40–66 val uiteen in drie literêre eenhede. Aan die einde van die eerste twee groepe van nege hoofstukke elk word afsnypunte aangetref wat deur twee byna gelykluidende tekste aangedui word: 40:1–48:22 (eerste sleutelteks: 48:22); 49:1– 57:21 (tweede sleutelteks 57:21); 58:1–66:24 (derde sleutelteks en slot). Talle soortgelyke studies bevestig die eenheid en belig die retoriek van die dokument, beklemtoon die eenheid van vorm en inhoud en toon aan dat die literêre karakter van die boek die teologiese betekenis daarvan dra.

Literêre struktuur: Daar is twee literêre strukture wat die boek moontlik kenmerk. Die grondvorm van die bekende chiastiese* struktuur vertoon ’n eenvoudige oorkruisrangskikking, naamlik A-B-B-A en kan klei­ner en groter eenhede, soos ’n hele boek, omvat. Afgesien van tweevoudige of spieëlbeeldrangskikkings, word meer ingewikkel­de literêre raamwerke ook aangetref, soos dié wat gekenmerk word deur (a-)simmetriese konsentrisiteit.

Wat eersgenoemde betref, toon ontle­dings van ooreenstemmende materiaal in verskillende gedeeltes van die dokument dat dit moontlik presies in die helfte verdeel kan word (1–33 en 34–66). Hierdie studies wil aantoon dat die Jesajaboek moontlik uit twee hoofgedeeltes bestaan met sewe onderdele elk wat simmetries met mekaar in ’n spieëlbeeld-balans verkeer. Die pyltjie in Diagram 1 dui die kern en dus die betekenis van die struktuur aan:

  

Ander het aangedui dat die boek moontlik op ten minste drie (a-)simmetriese konsentriese multikomplekse raamwerke gebaseer is. Hieronder tel drieledige en vierledige rangskikkings wat soms bo-oor mekaar ge­plaas is. Die eerste hiervan begin met twee sleutelwoorde gevolg deur ’n herhaling van dieselfde sleutelwoord enkele tekste verderaan. Hierdie 2-1-rangskikking kom ook in verbinding met die omgekeerde patroon voor, naamlik 1-2, dus 2-1|1-2. In Diagram 2 hoort die vetgedrukte en die kursiefgedrukte syfers respektiewelik byme­kaar. Hierdie stilistiese verskynsel kom dwarsdeur die Jesajaboek voor.

Ondersoeke het aangetoon dat ten minste 37 sulke asimmetriese mikrorangskik­kings die boek van Jesaja struktureer. Dit behoort uit Diagram 2 duidelik te wees dat behalwe laasgenoemde, één asimmetriese makrostruktuur, dié van die Troonbegrip, die hele boek omsluit. Twee drieledige asimmetriese strukture kruis mekaar: dié van die Dawidiese koning en die koning(s) van Babel/die nasies respektiewelik. Die “Dawidstruktuur” word ook na die anonieme figuur van die “dienaar van die Here*” uitgebrei, wat in tegniese sin ’n soepelheid verraai in die skrywer(s) se omgaan met die struktuur. Die Konings­troon van die Here vorm die hoofmoment van die oorkoepelende rangskikking en omsluit/heers oor alle ander trone. Die troonbegrip dra terselfdertyd die boodskap van die boek.

Afgesien daarvan dat die boek op grond van verwysings na die afsterwe van konings verdeel kan word (6:1, Ussia*; 14:28, Agas*; 38:1, Hiskia* en 53:8-9, dienaar van die Here), bestaan die moontlikheid ook dat die klem wat Jesaja op die koningskap plaas, aan die wortel lê van die visioen van die troon van die lewende Koning.

Op voetspoor van die tweevoudige ver­de­ling van die boek en die opponerende trone soos in Diagram 2 aangedui, sentreer die betekenis van die geskrif moontlik in teenstellende konsepte, uitgedruk in woordpare, of eerder polariteite wat deurlopend aan die orde kom. Byvoorbeeld, in die eerste gedeelte van Jesaja (sg Proto-Jesaja) word hoofstuk 6–8 en 36–39 teenoor mekaar gestel. Tydens die twee krisisse in die regeringsperiodes van Agas en Hiskia, moes die profeet dieselfde troos­woord, “Moenie bang wees nie …”, aan die onderskeie konings rig (7:4; 37:6). Onder druk uit die Noorde swig Agas weens sy ongeloof, terwyl sy opvolger Hiskia in die geloof volhard. ’n Verdere teenstelling kom na vore in die aanduiding dat Assirië* en Babilonië* as God se instrumente optree om Juda te reinig. ’n Gepaardgaande voorbeeld kan gevind word in die verkondiging van oordeel* en heil*. Sonder om besonderhede te bespreek, word nog vyf teenstel­lings gemeld wat veral die tweede gedeelte van die boek domineer: “die eerste dinge” en “die laaste dinge”; Babilon* en Jerusalem-Sion; die Here en die gode; Israel* en die nasies asook die Dienaar en Israel.

Die woord “Messias*” in Jes 45:1 verwys na ’n nie-Israelitiese koning (die Persiese koning Kores*). Jes 7:14; 9:1-6; 11:1-9 vestig egter die Messiaanse hoop op ’n Dawidiese koning. Die Nuwe Testament* (veral Openbaring*) haal meer uit Jesaja aan as uit ander Ou-Testamentiese* boeke. Op voetspoor van Jesaja word Op 4–7 ook deur die troonbegrip omraam (4:2; 7:9).

Vir verdere lees: DN Freedman (hoofred) 1992. Anchor Bible Dictionary. New York: Doubleday. JD Douglas 1998. Illustrated Bible Dictionary. Leicester: IVP. GA Buttrick 1962. Interpreter’s Dictionary of the Bible. Nashville: Abingdon Press. MC Tenney 1975. Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible. Grand Rapids: Zondervan. A Gileadi 1994. The Literary Message of Isaiah. New York: Hebraeus Press. RH O’Connell1994. Concentricity and Continuity. The Literary Structure of Isaiah. JSOT 188. Sheffield: Academic Press.

Sidebar