JESUS CHRISTUS

JESUS CHRISTUS se belangrikheid blyk alreeds uit sy sleutelposisie op die Christe­like kalender*.Veel belangriker is sy wêreldwye invloed op triljoene menselewens.

Bronne vir Jesus se lewe: Vanweë die relatiewe onbekendheid van die Christelike geloof* in die eerste-eeuse wêreld, kry ons in destydse buite-Bybelse bronne min verwysings na Jesus*. In sy Annales noem die Romeinse skrywer Tasitus “Chrestus” se veroordeling onder Pontius Pilatus*. Die Joodse geskiedskrywer Josefus* vermeld Hom twee keer in sy Antiquitates. Sy oorspronklike bewoording aanvaar ongetwy­feld die historiese bestaan van Jesus van Nasaret*. Ons belangrikste bronne vir Jesus se lewe is uiteraard die Evangelies* (Mat­teus*, Markus*, Lukas*, Johannes*). Ander bronne is onder meer die oorblywende Nu­we-Testamentiese* geskrifte, die apokriewe* evangelies, die kerkvaders* en selfs die Koran*. Paulus* haal in 1 Kor 11:23 en volgende verse ’n Jesus-tradisie oor die in­stelling van die nagmaal* aan, terwyl 1 Tess 4:15-17 ’n Jesus-uitspraak oor die weder­koms* bevat. Volgens Hand 20:35 het Jesus ook gesê: “Om te gee maak ’n mens geluk­kiger as om te ontvang.” Buite-Bybelse bronne bevat slegs enkele elemente van werklike historiese waarde. Die kerkvader Origenes* en die apokriewe* Tomas-Evan­gelie siteer bv ’n treffende Jesus-woord oor die eis van dissipelskap: “Wie naby aan My is, is naby aan die vuur. Wie ver van My is, is ver van die koninkryk.” En die apokriewe Nasareër-Evangelie bevat ’n geloofwaardige aanvulling op Jesus se woorde aan die ryk jongman: “Baie van jou broers, kinders van Abraham*, is in vuil vodde geklee en is sterwend van honger. Jou huis is oorlaai met goed en daar kom niks, heeltemal niks daarvan by hulle uit nie.”

Hooftrekke van Jesus Christus se lewe en optrede: Dit is onmoontlik om uit die Evangelies ’n noukeurige rekonstruksie van Jesus se lewensloop te maak. Eerstens is hulle geen biografieë nie, maar geloofsdok­u­mente wat in die ná-opstandingstyd, met gebruikmaking van Jesus-tradisies, ge­skryf is; tweedens konsentreer hulle net op sekere betekenisvolle momente – veral die laaste fase van Jesus se lewe; en derdens word hulle ingekleur deur die betrokke skrywer se interpretasie. Die drie Sinoptiese Evangelies*, Matteus, Markus en Lukas, kom redelik met mekaar oor­een, terwyl Johannes ’n dieptekyk op Jesus Christus se betekenis aanbied. Die Nuwe Testament* se klem op die ooggetuies bena­druk egter die basiese betroubaarheid van die Jesus-verkondiging (vgl Luk 1:2; Joh 21:24). Afgesien van die geboorte en kinderverhale (by Matteus en Lukas), begin al vier Evangelies met die optrede van Johannes die Doper*. Ná Jesus se doop, tree Hy hoofsaaklik in Galilea* op, maar besoek Jerusalem* by geleentheid. Sy prediking konsentreer op die koms van God se ko­ningsheerskappy en besit ’n varsheid en outoriteit wat die skares tegelyk verstom en aantrek (Mark 1:22; vgl Matt 7:28). Sy voorkeurmedium om te onderrig, is gelyke­nisse*. Sy wonders* is die kragtige bevesti­ging van die teenwoordigheid van God se heerskappy (Luk 11:20). Op sy beurt beskryf Johannes hulle as tekens wat Jesus se heerlikheid sigbaar maak (Joh 2:11). Jesus ver­kon­dig nie net die grenslose liefde* en genade* van God nie (Matt 5:43-48); Hy leef dit deur met tollenaars*, slegte vroue – trouens, met alle sondaars en veronregtes – te assosieer (Matt 11:19; vgl veral ook Luk 15). Terselfdertyd stel Hy buitengewone eise aan dissipelskap. Die volksleiers ervaar sy optrede as ’n bedreiging en beraam planne om Hom te elimineer. Merkwaardig is dat Jesus in dié omstandighede nogtans vasbeslote na Jerusalem* gaan (Luk 9:51). Hy doen dit in die oortuiging dat Hy ’n taak van God ontvang het om uit te voer. Met die instelling van die nagmaal konkretiseer Hy hierdie taak baie duidelik: Hy gee sy lewe vir die sonde* van baie mense (Mark 14:22-24 ens). Met sy sterwe lyk dit of sy saak vir altyd in duie gestort het, maar op Paassondag* ontdek ’n paar vroue en dissipels* dat Hy deur God opgewek is. Na ’n aantal opstandingverskynings, word Hy na God toe opgeneem. Voor sy vertrek gee Hy egter aan sy volgelinge die sending*opdrag en verbind die toerusting van die Heilige Gees* daaraan (Matt 28:18-20; Joh 20:21-23; Hand 1:8).

Jesus se Name en die geheim van sy persoon: “Jesus” is die Griekse* vorm van die Aramese* Jesjua, sy noemnaam. “Christus” is ’n ampstitel wat na Hom verwys as die Messias* of Gesalfde. Met Jesus die Christus het die vroeë Christene* bely dat Jesus die Messias is, maar hierdie benaming het mettertyd afgeplat tot Jesus Christus. Jesus self staan terughoudend teenoor die Messias­titel vanweë dié term se nasionaal-politieke konnotasies. Wanneer Petrus* Hom as die Christus (Messias) bely, wys Hy dit wel nie direk af nie, maar begin onmiddellik oor sy komende lyding praat (Mark 8:27-33). In die Evangelies gebruik Jesus besonder dikwels die benaming “Seun van die mens”*, waar ons normaalweg ’n “Ek” sou verwag (b­v Matt 8:20). Dit is merkwaardig dat hierdie benaming op drie uitsonderings na (Hand 7:56; Op 1:13; 14:14) net in Jesus se mond voorkom. Baie navorsers stem dan ook saam dat Jesus Homself geïdentifiseer het met die Seun van die mens van Dan 7:13 – ’n magtige redder en oordeelsfiguur wat in die eindtyd* sou verskyn. Hy verruim hierdie motief egter deur sy aardse optrede en lyding* daarby te in­kor­poreer. Verder maak Jesus se doelgerigte betreding van sy lydensweg, en veral sy nagmaalwoorde, duidelik dat Hy Homself sien as dié lydende Kneg van die Here in wie Jes 53 vervul word. Op sy beurt was die benaming “Here*” ’n ná-Pase erkenning van Jesus Christus se verhoogde posisie, al­hoe­wel dit aansluit by sy gesagvolle aardse optrede. Jesus se diepste geheim lê egter in die unieke manier waarop Hy God as sy Vader* aangespreek en beleef het (Mark 14:36; vgl veral Gal 4:6). In aansluiting daarby en finaal oortuig deur sy opstan­ding*, het sy volgelinge Hom as “Seun van God” bely (vgl Rom 1:4). Dit is egter verkeerd om Jesus se wete van wie Hy is, net aan ampsbenamings te verbind. Ook die gesagvolle manier waarop Hy met sy “waarlik Ek sê vir julle” (“amen Ek sê vir julle” – Nuwe Testament en Psalms: ’n Direkte Vertaling, 2014), of sy “maar Ek sê vir julle”, sosiale konvensies verbreek het, die mag van die tradisie en die volksleiers on­der­stebo gekeer het, Ou-Testamentiese* wette geradikaliseer en selfs weerspreek het – al hierdie dinge spreek van ’n onge­hoorde, unieke selfbewussyn, ’n wete van wie Hy is. (Kyk ook: Jesus, Historiese.)

Hoofmomente van Jesus se prediking: Volgens die Sinoptiese Evangelies sentreer Jesus se prediking rondom die konings­heerskappy (koninkryk*) van God wat in sy persoon alreeds aktief is, maar met sy koms in heerlikheid sy kulminasie sal bereik. God is die Koning* wat in grense­lose lief­de deur Jesus Christus en sy bodes almal sonder aansiens des persoons uitnooi om in te kom – almal wat besef hoe nodig hulle God het (Matt 5:3). Toegang word nie deur enige besondere vroomheidsprestasie verkry nie, maar deur ’n totale hart- en lewensverandering (bekering*). Ten diepste gaan dit egter in al die Evangelies oor die liefde. Jesus se dood* is die seël op sy lewe van liefdevolle diens, deernis en gehoorsaamheid. Hy sterf om die skeiding tussen God en mens, naamlik die sonde*, weg te neem (Mark 14:24). Vir die eerste Christene was Jesus se opwekking uit die dood God se magtige “ja” op dit alles (vgl Rom 4:25).

Sidebar