JESUS, HISTORIESE

JESUS, HISTORIESE. Jesus* was nog altyd omstrede. Vroeg reeds is sy opstan­ding* ontken en beweer dat die dissipels sy lyk gesteel het (Matt 28:13). Die tweede-eeuse apokriewe Ebioniete-Evangelie ont­ken die maagdelike geboorte*, terwyl sekere Joodse geskrifte beweer dat Jesus die buite-egtelike kind van Maria*1 en ’n Romeinse soldaat was. Gnostiese* geskrifte ontken weer sy menslikheid.

Die vertrekpunt van die wetenskaplike Jesus-soektog, is die oortuiging dat die ware, vlees en bloed eerste-eeuse Jesus aansienlik verskil van dié waarvan die vier Evangelies ons vertel. Die “ware” Jesus moet dus nog gevind word. Hierdie eerste soektog is in 1778 deur ’n postuum gepubliseerde geskrif van Reimarus aan die gang gesit. Volgens hom wou Jesus ’n Joods-Messiaanse koninkryk vestig, maar die Evangelies verdoesel dit. Hierna volg ’n lang ry gerekonstrueerde historiese “Jesusse”. Merkwaardig genoeg word feitlik elke gerekonstrueerde “Jesus” ’n spieëlbeeld van sy ontwerper se voorveronderstellings. Die rasionalisme* wil ’n Jesus hê wat die menslike rede bevredig. Vandaar die stelling dat Jesus ’n skyndood moes gehad het. Die wonderbaarlike spysiging word daaraan toegeskryf dat Jesus se dissipels* vooraf ’n groot voorraad kos in ’n grot opgeberg het. Die mees prominente voorstander van so ’n rasionalistiese Jesus-beeld was HEG Paulus (1761–1851), maar hierdie tendens gaan nog steeds voort vanweë die behoefte om alles binne die net van ons logika vas te vang. Die mitologiese Jesus begin by DF Strauss*, herleef later by Bultmann*, maar kry steeds weer nuwe lewe. Bruno Bauer was die eerste voorstander van ’n heeltemal skeptiese Jesus-beeld. Volgens hom was daar nooit werklik iemand soos Jesus nie. Hy was eintlik die produk van die verwagtings van sy tyd. Die romantiese Jesus van die Fransman Ernest Rénan herleef telkens weer in eietydse films. By die moralistiese Jesus van Albrecht Ritschl val alle klem weer op hoë morele waardes. Volgens William Wrede*, ’n besonder skerp en skerpsinnige kritikus van die tradisionele Jesus-beskouing, het Markus*, die eerste Evangelieskrywer, onder invloed van die geloofsoortuigings van die vroeë Christengemeentes, van die mens Jesus – wat ’n heeltemal onmessiaanse lewe gevoer het – ’n Goddelike Messias gemaak. Op voetspoor van Johannes Weiss het Albert Schweitzer* gekom met die eskatologiese Jesus: Jesus het die voleinding so naby verwag, dat sy prediking volledig daardeur bepaal was. Die opdragte van die Bergrede* is hiervolgens eintlik net tussentydse bepa­lings vir die kort tydjie voor die einde. Wanneer Jesus se selfgekose lyding nie die einde aanbring soos Hy verwag het nie, sterf Hy as ’n teleurgestelde man.

In reaksie op die talle mislukte en onbe­vredigende “soektogte”, het Martin Kähler die futiliteit van hierdie ondersoek beklemtoon. Vir die Christelike geloof* is immers net die gepredikte Christus* waarvan die Nuwe Testament* vertel, van belang. Bult­mann sluit in ’n sekere sin by Kähler aan, maar ook by Strauss en die filosoof Heide­g­ger*: van Jesus weet ons byna net dat Hy geleef en aan die kruis gesterf het. Uit die mitologiese* Evangelieverpakking moet ons die kern van die boodskap uithaal so­dat ons as moderne mense vir God kan kies, meen Bultmann. Ondertussen het die politieke Jesus van Reimarus weer sy verskyning by Robert Eisler gemaak. Jesus se tempelreiniging was volgens hom eintlik ’n gewelddadige magsgreep om die ko­ningskap oor Israel* oor te neem. Op hulle beurt het verskeie Joodse* skrywers weer ’n Joodse Jesus gekonsipieer.

Die tweede soektog, vanaf ongeveer 1953, was minder skepties. Prominente verteenwoordigers was Käsemann*, Bornkamm en Jeremias*. Baie aandag word deur hulle gegee aan die wetenskaplike kriteria om by die historiese Jesus uit te kom. Getrou aan die bevrydingsteologieë* wat vanaf die 1960’s na vore tree, maak nou ook allerlei politieke en revolusionêre Jesusse hulle verskyning – weer eens ’n aanduiding van hoe ideologiese* posisies eiesoortige Jesus-beelde na vore roep.

Die derde soektog, wat in die 1980’s op dreef kom, word oorheers deur Ameri­kaanse geleerdes. Die opbloei van die sosiaal-wetenskaplike ondersoek laat sy stempel op die Jesus-navorsing. Op Duitse bo­dem is veral Gerd Theissen in hierdie opsig aktief. Die Jesus van die Amerikaner John Dominic Crossan is ’n anti-konvensionele boerefiguur wat soos ’n siniese filosoof van die eerste eeu al predikende rondbeweeg. Die “Jesus Seminar” verhef die gerekonstrueerde Q-bron (Kyk by: Sinoptiese Evangelies) en die apokriewe* Tomas-Evangelie tot volwaardige inligtingsbronne naas die Evangelies. Volgens hulle is minder as twintig persent van die kanonieke (Kyk by: Kanon) Nuwe Testamentiese* Jesus-uitsprake outentiek. Die resultaat van hulle soektog is Jesus die wysheidsleraar. Hulle werkmetode staan egter oop vir drastiese kritiek. Hulle sentimente het ook in Suid-Afrika weerklank gevind en ’n heftige polemiek selfs in die dagbladpers veroorsaak.

Die Jesus-debat gaan voort. Dit staan egter voor ernstige probleme. Eerstens speel subjektiwiteit hier, soos ons gesien het, so ’n opvallende rol dat die wetenskaplike uitvoerbaarheid van hierdie ondersoek ernstig bevraagteken moet word. In hierdie sin was Martin Kähler miskien tog reg. En tweedens word die sekulêre tydgees, wat nie meer die bestaan van ’n bowe-aardse, Goddelike wêreld erken nie, al hoe meer die kernprobleem. Indien konsekwent deurgevoer, is daar in hierdie intra-wêreld­se benadering nie plek vir Jesus as die Seun van God*, vir wonders* en vir die opstan­ding* nie. Vir diegene wat egter glo dat daar méér in die lewe is as wat ons met ons logika en wetenskaplike instrumentasie kan bepaal, is dié Jesus waarvan die Nuwe Testament op veelvormige manier getuig, prinsipieel geen probleem nie – trouens, Hy breek vir hulle ongekende horisonne oop. Vir hulle word Hy die weg, die waarheid en die lewe.

Sidebar