JEUG-TOT-JEUGAKSIE

JEUG-TOT-JEUGAKSIE (1974) was ’n aksie van die NG Kerk*. Op voordrag van ds Mike Smuts (sr)* het die kommissies vir evangelisasie en jeug en die destydse Breë Moderatuur van die Algemene Sinode goedgekeur dat so ’n jaarlange aksie in 1974 onderneem word. Die span van gekeurde jongmense is opgelei om daarna landwyd ander jeug op te lei. Hierdie span het met musiek (koorsang) en Woord-getuienis uitgereik na die kerkjeug en ook na kerkver­vreemde en buitekerklike jeug.

Gedurende 1973 het jongmense landwyd aansoek gedoen om in die span opgeneem te word. 64 jongmense uit al 11 sinodes van die NG Kerk is sinodaal en uiteindelik deur ’n komitee van die Algemene Sinode vir hierdie doel gekeur. ’n Hoofleier, twee onderleiers en ’n organiseerder is benoem.

Gedurende die eerste twee weke van ’n besoek aan ’n stad/streek is opleiding deur lede van die span aan medejongmense gegee. In die laaste week van die drie wekelange besoek is saamtrekke gehou waartydens na ander jongmense uitgereik is. Die landwye aksie is afgesluit met ’n groot saamtrek by die amfiteater van die Voortrekkermonument in Pretoria. Altesaam 32 000 jongmense is opgelei en meer as 350 000 persone het landwyd die saamtrekke bygewoon. Die aksie, een van die merkwaardigste uitreike van die NG Kerk in die 20ste eeu na die jeug, het by baie jongmense tot nuwe entoesiasme vir die kerk* gelei en groot getalle het hulle ná 1974 aangemeld vir teologiese studie. Die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974 moet in die konteks van sy tyd gesien word, en is as sodanig waarskynlik onherhaalbaar. Latere jeugaksies van die NG Kerk, soos #iMagine in 2013/14, het ’n ander aanslag gehad en was minder ambisieus as die destydse poging.

Sidebar