JEUGBEDIENING

 

JEUGBEDIENING word deur kerke en teoloë verskillend verstaan. In die Engels­talige wêreld verwys die term “jeug” ge­woonlik na adolessente. Binne die gerefor­meerde* tradisie is dit meer dikwels ’n inklusiewe term vir die leeftyd van die wieg tot wanneer jong volwassenes in die huwelik tree. Gereformeerdes aanvaar die jeug as ’n wesenlike deel van die geloofsgemeenskap. Hulle word begelei (veral langs die weg van kategese* of geloofsopvoeding*) tot belydenis van hulle geloof* en aanvaar­ding van volle verantwoordelikheid binne die geloofsgemeenskap.

Jeugbediening word gewoonlik op twee maniere verstaan. Daar is die programmatige benadering wat fokus op program­me wat deur ander volwassenes, en ook deur die jeug self, aangebied word. Die in­klu­siewe bediening sien die jeug as ’n wesenlike deel van die gemeente en sluit hulle in alles in wat met en deur die ge­meente gebeur. Tegelykertyd word daar binne hierdie benadering spesifiek met hul­le eiesoortige behoeftes rekening gehou. Hierdie bediening is dan tegelyk inklusief en gedifferensieerd. Allerweë word aanvaar dat verhoudings (soos bv in gesin­ne) deurslaggewend is vir effektiewe jeugbediening. Gesinsbediening* is daar­om ’n kritiese vertrekpunt in en vir jeugbediening. Jeugbediening het by uitstek te doen met verhoudings.

Sidebar