INFRALAPSARISME

INFRALAPSARISME. Kort ná die Refor­masie* het daar onder gereformeerdes* verskil van mening ontstaan oor die tydstip waarop God sy ewige besluite geneem het. Die infralapsarisme het gesê dat God sy besluite van verkiesing en verwerping ná (Latyn: infra) die sondeval* (Latyn: lapsus) geneem het, terwyl die supralapsarisme gesê het vóór (Latyn: supra) die sondeval. Op die Dordtse Sinode (1618–1619) was beide sienswyses verteenwoordig, want beide kan hulle ook op sekere Bybelse* uitsprake beroep (bv Deut 7:6-7 teenoor Ef 1:4).

Soos met alle -ismes het ons hier ook met eensydige beskouings te maak. Per slot van rekening is dit ’n vals dilemma om te vra wanneer God sy ewige besluite geneem het. Dit is om alte menslik oor Hom te dink. Die ewigheid* is nie net vóór die skepping* en ná die wederkoms* nie; dit is altyd. God gaan in sy ewigheid ons tydelikheid vooraf, maar Hy gaan ook daarin met ons mee, totdat daar uiteindelik geen tyd meer sal wees nie. In die ewigheid is daar geen chronologiese opeenvolging van tye nie.

Die Dordtse Sinode het die reg van beide infra- en supralapsarisme erken. Die sterk punt van die infralapsarisme is dat dit die reeds in sondegevalle mensdom as voor­werp van God se verkiesing en verwerping beskou. Die Dordtse Leerreëls* redeneer in hoofstuk 1, paragraaf 1-5, op ’n infralapsariese manier oor sonde*, geloof* en ongeloof*. Dit beklemtoon dat ons nie op dieselfde manier oor verkiesing en verwerping moet dink nie. Die uitverkorenes word verkies uit genade* alleen sonder inagne­ming van enige verdienste van hulle kant af. Maar die verworpenes word verwerp omdat hulle reeds vir God in sonde verwerp het. Die gevaar van die supralapsarisme is dat daar te skematies oor God se verkiesing en verwerping gedink word – so asof dit twee parallelle of simmetriese lyne sou wees. Die hiper-Calvinisme* beweer: God het van alle ewigheid af besluit wie verkies en wie verwerp sou word. Daarom het Christus* net vir die uitverkorenes gesterf. Die logiese konsekwensie van hierdie redenasie is egter dat ons maar kan leef soos ons wil; as ons uitverkies is, sal ons tog maar gered word en as ons verwerp is, sal ons in elk geval verlore gaan. Dít is egter onevangelies en hou nie genoeg rekening met die mens se verantwoordelikheid nie.

Die veiligste is waarskynlik om infralapsaries te redeneer, met inagneming van die supralapsariese aspekte. Dan kan eensydighede en verkeerde gevolgtrekkings in die leer van die uitverkiesing* vermy word.

 

Sidebar