JOB (BYBELBOEK)

JOB (BYBELBOEK). In die Ou Testa­ment* staan die boek Job, in navolging van die Septuaginta*, eerste in ’n bundel van vyf boeke wat uitsluitlik poëtiese en wys­heidsmateriaal bevat (Job, Psalms*, Spreu­ke*, Prediker* en Hooglied*). Hierdie bundel is geplaas tussen die historiese en profetiese boeke. Die Hebreeuse Bybel groe­peer die boek Job saam met die geskrifte*, wat ná die wet* en die profete* kanonieke (Kyk by: Kanon) status verkry het.

Teks: Die Hebreeus* waarin Job geskryf is, is op plekke moeilik om te verstaan (bv die bekende woorde in Job 19:25-27). Die Septuaginta-vertaling van die boek is heelwat korter en laat sommige herhalings van argumente wat in die Hebreeus voorkom, weg. Hierdie vertaling bevat ook byvoegings wat nie in die oorspronklike voorkom nie (bv ’n langer slot).

Die boek is in twee literatuursoorte ge­skryf. Die inleiding (1:1–2:13) en die slot (42:7-17) is in vertelvorm, terwyl die middelste deel van die boek (3:1–42:6) in digterlike vorm geskryf is. Kenmerkend van Hebreeu­se poësie is die gebruik van parallelismes* waarin daar ’n ooreenkoms bestaan tussen twee opeenvolgende versreëls, bv: “Die dag waarop ek gebore is, moes nooit aangebreek het nie / die nag toe gesê is ’n seuntjie het in die wêreld gekom” (Job 3:1).

Die boeke Job, Spreuke en Prediker is voorbeelde van wysheidsliteratuur. Hierdie soort geskrifte is regdeur die Ou Nabye Ooste aangetref en gee veral voorbeelde van God se geskape orde. Die wyse mense wat hulle lewe volgens hierdie orde inrig, so is gemeen, sal sukses behaal, terwyl dwase mense wat dit ignoreer, ongeluk sal ervaar. Die boek Job debatteer hierdie vergeldingsleer en vra of alles wat met ’n mens gebeur, inpas in hierdie raamwerk.

Samestelling: Die boek begin met ’n beskrywing van ’n man, Job, se vroom lewe en rykdom (1:1-5). Die toneel verskuif dan na die hemel* waar Satan* (= Teenstander) redeneer dat Job se vroomheid gekoppel is aan sy voorspoed. Hy kry toestemming om Job se besittings weg te neem om vas te stel of sy vroomheid nie dan ook sal verdwyn nie (1:6-12). Terug op die aarde, tref ’n reeks verskriklike rampe vir Job: hy verloor al sy besittings, wat in daardie kultuur sy kinders insluit. Job behou egter sy vroom­heid (1:13-22). Die volgende toneel (2:1-6) verplaas ons weer na die hemel waar Satan toestemming kry om Job se vroomheid aan sy lyf te toets. Ten spyte van hierdie onver­klaarbare ongeluk wat Job beleef, bly hy vroom. Drie vriende sluit by hom aan om hom te troos (2:7-13).

Die poëtiese deel van die boek veronderstel kennis van die voorafgaande gebeure. Dit begin op dramatiese noot wanneer Job, nadat die afgryslike gebeure ingesink het, in die teenwoordigheid van sy vriende sy geboortedag vervloek (3:1). Hierdie deel van die boek word in vyf dele verdeel en bestaan uit drie reekse dialoë tussen Job en sy drie vriende (3:1–31:40): ’n monoloog deur Elihu*, ’n vierde vriend wat op die toneel verskyn (32:1–37:24), en dialoë tussen God en Job (38:1–42:1-6).

Die drie reekse dialoë tussen Job en die drie vriende volg ’n vaste patroon. Telkens praat Job eerste voordat elkeen van sy vriende, Elifas, Bildad* en Sofar* in hierdie vaste volgorde, ’n kans kry om hom te antwoord. Die eerste (3:1–11:20) en tweede (12:1–20:29) reeks word volledig voltooi, maar in die derde (21:1–31:40) word die laaste vriend, Sofar, se spreekbeurt deur Job gekaap. Hierdie rede van Job sluit onder andere ’n meesterlike gedig oor die misterie van die wysheid in (28:1-28), asook ’n pleitrede wat sy onskuld bewys (31:1-40).

Job en sy vriende redeneer uit die raam­werk dat goeie mense sukses behaal en slegte mense gestraf word. Job beleef egter dat hierdie vergeldingsleer in sy geval nie sin maak nie – hy ly geweldig al is hy ’n goeie mens. Job se situasie maak ook nie vir sy vriende sin nie, maar hulle dink dat Job nie so vroom is as wat hy voorgee nie – hy word gestraf vir sonde wat hy wegsteek. Elifas troos Job deur te sê dat wat Job ook al verkeerd gedoen het, dit in die konteks van sy goeie lewe redelik gering is en dat sy straf daarom nie lank sal duur nie (4:6). Bildad dink in dieselfde rigting en meld dat die feit dat Job steeds lewe, bewys dat hy darem nie so sondig soos sy kinders is nie (8:4). Sofar is net so rigied in sy denke dat ’n mens kan weet hoe God te werk gaan. God straf sondaars en al weet hulle nie wat Job se sonde is nie, weet God dit wel.

Elihu, ’n jonger vriend waarna nie in die inleiding en slot verwys word nie, kom ná hierdie gesprekke aan die woord. Hy redeneer dat die drie vriende te strak oor die saak dink. Lyding is nie altyd bedoel as straf op sonde nie, maar is eerder ’n manier waarop God met mense praat om hulle op die regte pad te hou (33:29-30).

Die poëtiese deel van die boek sluit af met twee gedigte waarin God praat (38:1–39:35; 40:1–41:25) en waarna Job kortliks sy kleinheid erken (39:36-38; 42:1-6). Hierdie gedigte bied geen direkte antwoord op die saak wat Job en sy vriende debatteer nie. Trouens, die gedigte vra meer vrae oor die skepping, natuurwette en diereryk wat met ’n eerste oogopslag glad nie met die res van die boek verband hou nie. Die punt is juis dat sake wat vir mense dalk sentraal staan, vir God van minder belang is. Job verstaan nie hoe natuurprosesse werk, of wat die doel van wilde diere soos seekoeie en krokodille op aarde is nie, en tog leef hy daarmee saam. Net so kan hy nie verwag om alles te verstaan wat in sy lewe gebeur nie – ook daarmee sal hy moet saamleef.

Die boek eindig met ’n vertelling waarin ons hoor hoe Job weer geseën word, omdat hy die waarheid oor God gepraat het (42:7-17). Die boek temper dus die idee van die vergeldingsleer, sonder om dit heeltemal te laat vaar.

Die boek Job bring die gedagte tuis dat geen mensgemaakte skema of dogma God se werk in die misterie van die lewe kan beperk tot mense se verstaansvermoë nie. Dié gedagte word deur middel van metafore* uitgewerk. Die boek Job kan daarom nie as die “historiese” weergawe van ene Job se lewe gesien word nie, ofskoon daar dalk iemand in die antieke wêreld was wie se lewe as aanknopingspunt of inspirasie vir die verhaal gedien het. Die verhaalgegewe kan egter ook heeltemal denkbeeldig wees om genoemde gedagte oor te dra. Dit is ongetwyfeld ’n werk van groot literêre waarde en handel oor vrae waarmee mense van alle eeue worstel.

 

Sidebar