JOËL (BYBELBOEK)

JOËL (BYBELBOEK). Volgens die op­skrif (1:1) word die boek gekoppel aan Joël, seun van Petuel, van wie ons nie enige verdere gegewens het nie. Die boek word deur sommige geleerdes as die “literêre anker” in die Boek van die Twaalf* beskou en daar word selfs gepraat van ’n sg “Joël-redaksielaag”. In die Septua­ginta* kom die boek ná Miga* voor, maar in die Hebreeuse kanon* ná Amos*. Hierdie posisie in die Hebreeuse kanon is waar­skyn­lik as gevolg van literêre ooreenkomste tussen Amos 1:2, 9:13 en Joël 3:16, 18 en die feit dat beide Amos en Joël na Tirus*, Edom* en die Filistyne* verwys.

Historiese agtergrond: Dit is moeilik om Joël te dateer, aangesien die boek geen direkte historiese inligting verskaf nie. Pogings om die boek te dateer, wissel van die 9de tot die 2de eeu voor Christus. Die meeste navorsers kies egter ’n datering ná die ballingskap*, waarskynlik ná 516/5 vC toe die tweede tempel* ingewy is. Daar is talle argumente om dit te ondersteun: die Babiloniese ballingskap behoort tot die verlede (3:1-3); verskeie verse veronderstel die bestaan van die tweede tempel (1:9; 13-16; 2:15-17); die mure van Jerusalem is her­stel (2:7, 9); en die boek haal aan uit vroeër profete. Die verwysing na die sprinkaanplaag (1:4; 2:3) word op verskillende maniere geïnterpreteer. Sommige ver­klaarders reken dat ons hier met ’n werklike sprinkaanplaag te doen het wat die hele landbou vernietig het. Ander glo dat dit ’n digterlike beeld is vir ’n vyandige leër wat alles voor hom vernietig. Dit kan ook wees dat die beskrywing van ’n werklike sprinkaanplaag (hoofstuk 1) ’n simboliese betekenis in hoofstuk 2 kry.

Samestelling en verdeling: Sekere navor­sers reken dat die profeet Joël vir die eerste deel van die boek (1:1–2:27) verantwoordelik was en dat 2:28–3:21 later bygevoeg is. Die eerste deel is in digterlike taal geskryf en vertel van die dag van die Here* wat alreeds plaasgevind het. Die tweede deel vertel van die dag wat nog moes kom. Ten spyte van talle vrae oor die samestelling van die boek, kan dit as ’n literêre eenheid behandel word.’n Moontlike verdeling is: 1:1; 1:2-14; 1:15-20; 2:1-11; 2:12-17; 2:18-27; 2:28-32; 3:1-17; 3:18-21.

Boodskap: Joël bied troos vir ’n moedelose Judese (Kyk by: Juda) gemeenskap en beweeg van ’n klaaglied (1:2-14) tot ’n belofte van verlossing (3:18-21). Verskillende perspektiewe oor die “dag van die Here” kom in Joël voor. In die eerste deel word daar op Israel* gefo­kus, terwyl Joël 3 die “dag” beskryf in terme van Goddelike oordeel teen Israel se vyan­de. In die middel van Joël (2:28-32) word die dag van die Here getipeer as ’n groot kosmiese gebeurtenis wat mense van alle ouderdomme sal raak. Joël roep die volk op om hulle te verootmoedig (1:14) en te reinig (2:16) in die lig van God se heiligheid (2:1; 3:17). Daar is egter geen direkte verband tussen die volk se bekering en die Here se reaksie nie. Die moontlikheid vir verlossing is alleen gegrond op die genade van die Here (2:12). In Hand 2:14-21 haal Petrus die woorde van 2:28-32 aan in sy preek op Pinksterdag*.

Vir verdere lees: G McConville 2002. Ex­plo­ring the Old Testament. Volume 4: Prophets. Londen: SPCK. JD Nogalski 2000. “Joel as ‘Literary Anchor’ for the Book of the Twelve,” in: JD Nogalski en MA Sweeney (red), Reading and Hearing the Book of the Twelve. Atlanta: SBL. WS Prinsloo 1990. Joël. Kaapstad: NGKU.

Sidebar