JOESOEF, SJEIK

JOESOEF, SJEIK was ’n Islamitiese (Kyk by: Islam) heilige wat as politieke banne­ling na die Kaap gekom het. Nadat hy in 1644 op sy pelgrimstog na Mekka was, kry hy deur sy ywerige beoefening van Islami­tiese pligte en leringe mettertyd ’n re­putasie as godsdienstige kenner. Joesoef was later in Bantam die prominentste gods­diensleier. In die VOC-Bantamoorlog (1682– 1683) bied hy sterk weerstand teen die Ver­eenigde Oost-Indiesche Compagnie, maar moes uiteindelik onder groot omstredenheid oorgee. Met ’n groot gevolg van vroue, kinders en leraars het die VOC* sy politieke invloed hierna gevrees. Omdat sy aanhan­gers op sy vrylating aangedring het, word hy en ’n geselskap van getroue volgelinge in 1694 na die Kaap verban.

Dié groep het hulle hier op die plaas Zorgvliet op koste van die VOC gevestig. Hierdie plaas by Macassar (genoem na die sjeik se geboorteplek) aan die Eersterivier­mon­ding in die distrik Somerset-Wes, het destyds aan ds Petrus Kalden* behoort. ’n Kramat (heilige plek) is ná sy dood opgerig waarna sy gesin en volgelinge weer in 1699 na die Ooste teruggekeer het.

Joesoef het ’n sterk persoonlikheid gehad en was aantreklik, imposant, dapper, ener­giek en skrander. Behalwe die kramat is later ander geboue in die Moorse styl op Zorgvliet ontwerp en opgerig. ’n Graniet­steen herdenk sjeik Joesoef se aanwesigheid op die plaas, maar verwys nie spesifiek na die ligging van sy graf nie.

Joesoef het nie ’n politieke rol aan die Kaap gespeel nie, maar het saam met sy gevolg ’n bydrae gelewer om die Islam-geloof aan die Kaap te help vestig. Hy was wel ’n banneling aan die Kaap, maar tog ’n gesiene persoon wat, anders as ander Kaapse Moeslems/Maleiers van daardie tyd, nie ’n slaaf was nie.

Die Christelike geloof is nooit in Suid-Afrika deur Islam “bedreig” nie, en weinig Christene het Moesliems of Moesliems Christene geword. Moesliems speel in die post-apartheid* Suid-Afrika as burgers van die land sonder skroom hulle rol in die openbare lewe. Daar dien dan ook van tyd tot tyd Moeslems in die Kabinet.

 

 

Sidebar