JOHANAN BEN ZAKKAI

JOHANAN BEN ZAKKAI was een van die mees prominente rabbyne (Kyk by: Rabbi) uit die groep Tannaïm (1ste en 2de eeu nC) en ’n student van rabbi Hillel*. Hy word as een van die voorste Joodse* wysgere van die tydperk ná die val van die tweede tempel*3 (ongeveer 70 nC) beskou. Hy het die val van Jerusa­lem* en van die tempel in die oorloë met die Romeine (Kyk ook: Romeinse Ryk) mee­gemaak. Die oorlog het ’n verpletterende uitwerking op die Judaïsme* ge­had. Vóór die oorlog was die Judaïsme divers en lewenskragtig. Verskillende groepe, soos die Fariseërs*, die Sadduseërs*, die Selote* en die Esseners het toe bestaan. Ná die oorlog het slegs die Fariseërs oorgebly wat die basis gevorm het van alle latere Joodse groeperings. Johanan was direk hiervoor verantwoordelik. Hy was besonder versiende en het tydens die Joodse oorloë kontak gemaak met Vespasianus, prominente Romeinse generaal wat die Joodse opstande moes onderdruk, in ’n poging om die Joodse unieke leefwyse voort te sit. Hy het toe voorspel dat Vespasianus die volgende keiser sou word en is deur laasgenoemde toegelaat om ’n “teologiese” skool te Jabne* (Jamnia) aan die Middellandse Seekus te stig. Hierdie skool het ’n rigting­gewende rol gespeel in die herstrukturering van die Judaïsme. Gedurende hierdie tyd is die teks van die Hebreeuse Bybel wat later die Ou Testament* sou word, finaal vasge­stel.

Sidebar