JOHANNES (BYBELBOEK)

JOHANNES (BYBELBOEK). Die Evan­ge­lie* van Johannes* is een van die vier Evan­gelies wat in die Nuwe Testament* opgeneem is. Omdat dit inhoudelik so baie van die drie Sinoptiese* Evangelies verskil, het dit waarskynlik onafhanklik van hulle ontstaan. Die outeurskap word verbind aan die apostel* Johannes*2. Daar word aanvaar dat die basiese inhoud teruggaan na die apostel, maar dat sy leerlinge dit waarskynlik tot die huidige vorm verwerk het. Dit het moontlik sy beslag gekry op die eiland Patmos* waar Johannes, volgens tradisie, sy laaste jare as banneling deurgebring het. Op grond van die John Rylands-fragment, papirus 52 (Kyk by: Bybel: skryfgoed), wat teen 125 nC gedateer word en Joh 18:31-33, 37-38 bevat, kan aanvaar word dat die Johannes-Evangelie reeds teen die einde van die eerste eeu nC geskryf is.

Basies volg dit die struktuur van die ander Evangelies: proloog (1:1-18); verha­lende gedeelte (1:19–12:50); redevoerende gedeelte (13:1–17:26); lydensgeskiedenis (18:1–20:31); epiloog (21:1-25). Die inhoud het egter interessante aspekte, eie aan hierdie Evangelie: die proloog wat ’n sterk filosofiese karakter het; die wonderverhale wat met die klaarblyklik doel gekies is om as tekens te dien; die lang redevoerings wat inhoudelik nie aansluit by dié in die Sinoptiese Evangelies nie; die lydens- en opstandingsgeskiedenis met besonderhede wat nie op ander plekke voorkom nie; die dubbele afsluiting (20:31-31 en 21:25); die merkwaardige epiloog met nog ’n won­der­werk* van Jesus* ná sy opstanding* (21:4-6).

Uit ’n vergelyking met die ander drie Evangelies blyk, onder andere, dat die tema van die koninkryk* hier vervang word met ’n fokus op die ware, oorvloedige en ewige* lewe; dat daar nie veel verband is tussen hulle wonderverhale nie; dat die Messias­geheim* van die Sinoptiese Evangelies hier vervang word met ’n openlike spreke deur Jesus oor Homself. Nog unieke karaktertrekke is: die “Ek is”-uitsprake van Jesus; Lasarus* se opwekking uit die dood wat klaarblyklik funksioneer as ’n voorspel tot die opstanding* van Jesus self; Jesus se koms wat tegelyk heilshistories (Hy is die verwagte Messias* van Israel*) en kosmies (Hy kom van bo, van die Vader*) gesien word; mededelings oor die intieme verhouding tussen die Vader en die Seun*. Die filosofiese begin laat die vermoede ont­staan dat die gemeente* aan wie dit gerig is, ’n sterk Grieks-gnostiese* komponent kon gehad het. Tog word daar ook ’n sterk aksent geplaas op die Jode*. Hulle tree op as die groot teenstanders van Jesus. Ook die Joodse feeste* kry prominensie, veral die Paasfees* met Jesus as die Lam. Baie Ou-Testamentiese beelde kry hier Messiaanse inhoud, soos die herder*, die wynstok, die bruilof. Dit alles toon aan dat die outeur op meesterlike manier daarin geslaag het om twee religieus-kulturele wêrelde, ’n Grieks-gnostiese en ’n Joodse, met en in die evangelie van Jesus Christus* te integreer. Nóg opvallende trekke is die voetwassing (13:1-17), die hoëpriesterlike gebed vir eenheid (Joh 17) en die Grieke wat Jesus wil sien (12:21). Verder tree “vreemde” figure op soos Natanael* (1:45-52), Nikodemus* (3:2), die Samaritaanse vrou (4:1-26), Lasarus* (11:17), Tomas* (2:24). Die mees fassinerende is egter die persoon en die rol van die ano­nieme dissipel, “hy vir wie Jesus liefgehad het” (13:23; 20:2: 21:7, 20). Dit alles beklemtoon die onmisbare bydrae wat die Evangelie van Johannes tot die Nuwe Testament maak.

Sidebar