JOHANNES (BYBELBOEKE)

1, 2 EN 3 JOHANNES (BYBELBOEKE). Van die drie briewe (Kyk by: Brief) wat in die Nuwe Testament* bekend staan as die Johannesbriewe en wat al drie ongeveer dieselfde tyd, teen die einde van die eerste eeu, ontstaan het, is dit veral die eerste brief wat gou in die Vroeë Kerk* wye bekendheid geniet het. Reeds teen die helfte van die tweede eeu nC is daar aanduidings in ander geskrifte, soos Polikar­pos* se brief aan die Filippense (140 nC), dat 1 Johannes bekend was. Dit is ook vroeër in die kanon* opgeneem as die ander twee. Die korter omvang asook die meer persoonlike aard van 2 en 3 Johannes het waarskynlik daartoe bygedra dat hulle eers teen die einde van die vierde/begin vyfde eeu deur die hele Vroeë Kerk as kanon aanvaar is.

Alhoewel al drie bekend staan as Johannesbriewe, het 1 Johannes nie ’n ti­piese briefkarakter nie en is dit nie noodwendig die apostel Johannes* wat dit geskryf het nie. Dit is selfs moontlik dat dit nie dieselfde Johannes was wat al drie ge­skryf het nie. Heelwat Bybelnavorsers meen dat die Johannese geskrifte wel die resultaat bevat van die evangelie* wat deur die apostel Johannes verkondig is, moontlik in die stad Efese*, maar dat dit eers ná sy dood deur sy volgelinge voltooi is, of dat dit ná sy dood deur ’n ander Johannes uit die kring van die apostels geskryf is. Navorsers stem grootliks saam dat hierdie drie geskrifte saam met die Johannes-Evangelie (Kyk by: Johannes [Bybelboek]) binne ’n spesifieke gemeenskap, bekend as die Johannese gemeenskap, ontstaan het en dat die outeur hierdie gemeenskap in gedagte gehad het as eerste lesers.

1 Johannes word opsigtelik aan die Johannes-Evangelie gekoppel en dit is waarskynlik dat minstens 1 Johannes en die Johannes-Evangelie deur dieselfde persoon geskryf is. ’n Groot deel van die inhoud van 1 Johannes stem ooreen, is parallel met, of het raakpunte met die inhoud van dié Evangelie (vgl bv die begin en einde van beide). Die eerste twee briewe weerspieël ’n mate van spanning wat indertyd in bogenoemde gemeenskap ontstaan het vanweë die optrede van sekere dwaalleraars* wat die outeur sonder doekiesomdraai antichriste* noem. 1 en 2 Johannes is ook die enigste geskrifte in die Nuwe Testament waarin die naam “antichris” voorkom, alhoewel die inhoud van 2 Tess 2:3-10 en Op 13:1-10 ook tradisioneel met die antichris verbind word.

In 1 Johannes word besondere nadruk gelê op koinonia of hegte gemeenskap/deelgenootskap tussen Christen-gelowiges met mekaar en met God deur Christus* Jesus*. Die outeur lê die hoofklem op Chris­tus self as die middelpunt van ’n Christelike geloofsgemeenskap, en op koinonia met Hom. Rondom twee sleutelstellings – dat God lig is (1:5), en dat God liefde* is (4:8) – word twee kriteria vir egte koinonia in die brief uitgewerk. Die twee kriteria is om te wandel in die lig (1:5–3:10) en om te wandel in liefde (3:11–5:12).

In 1 Johannes kom ook ’n merkwaardige beskouing oor sonde* na vore. In 1:9 word sondebelydenis en die vergifnis (Kyk by: Vergewing) van sonde in ’n netjies gesti­leer­de voorwaardesin-konstruksie as ekwi­va­lente van mekaar gestel. Die een bestaan nie sonder die ander nie, maar die een gaan ook nie die ander vooraf nie. Hulle bestaan gelyktydig en bepaal mekaar we­dersyds (vgl bv “as ek lewe, haal ek asem” = “as ek asemhaal, lewe ek”). Verder moet ook onderskei word tussen sonde tot die dood en sonde wat nie tot die dood is nie (5:16-17). Sonde tot die dood is, kernagtig gestel, om Jesus Christus te ver­werp, en mense wat dit doen, se loon is die ewige* dood. Daar is ook sonde wat nie tot die dood is nie, en dit is die sonde van dié wat in Christus glo (Kyk by: Geloof*). Omdat hulle aan Christus behoort, het hulle Christus dus nie verwerp nie, nie die sonde tot die dood gepleeg nie, en kan die outeur selfs sê dat hulle nie kan sondig nie (dit wil sê, nie die eintlike kernsonde kan doen nie; 3:6, 9).

Anders as 1 Johannes, waar nie die name van ’n afsender of ontvangers aangedui is nie, maar wat tog duidelik aan ’n gemeente/gemeenskap gerig is, is beide 2 en 3 Johannes geskryf deur ’n ouderling* of oudste en gerig aan indiwidue, onderskeidelik die uitverkore vrou* en Gaius*. Wie die ouderling is, is nie duidelik nie, en ook nie wie die uitverkore vrou in 2 Johannes is nie. Dit kan moontlik simbolies bedoel wees, en dan dui die uitverkore vrou op die kerk* (die Griekse* woord vir kerk is vroulik – en hier word dan nie die universele kerk bedoel nie, maar die plaaslike kerk of gemeente*). Die indiwiduele gelowiges is dan haar kinders. Gaius was waarskynlik een van die kerkleiers in die Johannese ge­meenskap.

In albei hierdie geskrifte staan die waar­heid* baie prominent. Dit word direk aan Christus verbind. In beide kom die kwessie van gasvryheid* teenoor rondreisende predikers aan die orde. In 2 Johannes grond die skrywer sy advies in dié verband op die wese van ware Christenskap. Dit is wanneer Christus (en sy leer en gebod*) sentraal is, dat daar ’n volmaakte harmonie tussen die ware/suiwer Christelike leer en die ware Christelike lewe is. In 3 Johannes word Gaius geprys wat getrou ooreenkomstig hierdie waarheid gelewe het en aan die rondreisende predikers gasvryheid bewys het. Daarteenoor het Diotrefes, wat self leier wou wees, nie volgens hierdie waarheid opgetree nie.

Sidebar