JOHANNES PAULUS II (KAROL WOJTYLA)

JOHANNES PAULUS II (KAROL WOJTYLA) (1920–2005) is in Wadow, Pole, gebore en moes sy studies onderbreek toe die Nazi*-invallers die universiteit gesluit het. Terwyl hy bedags in ’n steengroef en later ’n fabriek gewerk het, het hy in die geheim sy studie om priester*2 te word in Krakow voortgesit. Ná sy priesterwyding het hy in beide wysbegeerte en teologie* gepromoveer, en as dosent ’n nuwe wysgerige stelsel uitgewerk as werktuig vir die hedendaagse teologie. In 1958 word hy tot biskop* gewy, in 1967 as kardinaal* be­noem, en in 1978 tot pous* verkies, die eerste nie-Italiaanse pous ná 455 jaar. Ter ere van sy voorgangers, Johannes XXIII, Paulus VI, en Johannes Paulus I (lg was kortstondig pous), het hy die naam Johannes Paulus aangeneem.

As pous het hy sy Katolieke kudde wê­reld­wyd besoek. Hy het die dialoog met verskillende Christelike gemeenskappe be­vor­der, asook betrekkings met ander godsdienste. Hy was betrokke by die val van die kommunistiese* ryk. Hy het ’n magdom belangrike leerstellige dokumente nagelaat, waarin hy die tradisionele Christelike waarhede vir die eietydse denkwyse verstaanbaar wou maak. Hy het ook die kerklike reg van die Katolieke Kerk* hervorm. Die lydsaamheid waarmee hy die siektes van sy laaste jare gedra het, het van sy intieme eenheid met Jesus* getuig.

Vir verdere lees: E Stourton 2006. John Paul II, Man of History. Londen: Hodder and Stoughton.

Sidebar