JOHANNES (PERSOON)

JOHANNES (PERSOON) is die naam van verskeie persone in die Nuwe Tes­tament*. Dit is die Griekse* vorm van ’n Hebreeuse* woord wat herinner aan “Jahwe* is genadig”.

  1. ‑Johannes die Doper kan gesien word as die persoon wat die brug slaan tussen die ou en die nuwe verbond*. Hy is die enigste seun van die vroom egpaar, Sagaria*, ’n priester*, en Elisabet*, ook van pries­terlike afkoms (Luk 1:5). Sy geboorte was merkwaardig. Dit herinner baie aan dié van Isak* in die Ou Testament*, maar ook aan die profesieë* oor die aanbreek van die Messiaanse (Kyk by: Messias) tyd. Sy ma was onvrugbaar en beide ouers al op ’n leeftyd dat die moontlikheid skraal was om ’n kind te kon hê. ’n Engel* het aan sy ouers die berig van sy geboorte gebring en ook verwys na die belangrike taak wat hy sou moes vervul. Hy sou in die tradisie van die profeet* Elia* optree. Sy pa word met stomheid geslaan toe hy die engel se aankondiging betwyfel, en hy kon eers ná Johannes se geboorte weer praat. Sy geboorte hou verband met dié van Jesus*, en dit blyk dat hulle fa­milie was. Voor sy openbare optrede het hy waarskynlik, volgens die engel se opdrag, ’n periode van nasireërskap (Kyk by: Nasireër) beoefen, dit wil sê, ’n vorm van askese* of afsondering en geheelont­houding. Hy het in die woestyn van die natuur geleef. Sy kleredrag was van kameelvelle, sy kos sprinkane en heu­ning. Daar in die woestyn tree hy as boeteprediker op. Hy roep die volk van die Here* op tot bekering*. Wanneer hulle dit doen, doop* hy hulle met die aankondiging dat God hulle sonde* sal vergewe*, vandaar dan ook sy naam, die Doper. Vir diegene wat hulle nie bekeer nie, kondig hy God se oordeel aan. Die tema van sy prediking was dat die koms van die koninkryk* van God naby was. Dat sy prediking wyd aanklank gevind het, blyk uit die toestroming van mense uit alle streke na hom toe waar hy by die Jordaan* opgetree het. Baie het selfs begin wonder of hy nie die Christus* is nie (Luk 3:15). Onder die skare was Jesus, vir wie hy ook doop (Mark 1:9). Johannes was duidelik bewus van die belangrike rol wat hy in die heilsgeskiedenis te vervul het as die voorloper tot die Messias soos die profete Jesaja* en Maleagi* voorspel het. In sy prediking kondig hy alreeds aan dat daar iemand ná hom sou kom wat belangriker as hy is en wat met die Heilige Gees* sal doop (Mark 1:7-8). By die doop van Jesus maak Johannes bekend dat Jesus dié Een is, en draai die belangstelling na Hom toe. Volgens die Johannes*-Evangelie se weergawe van die gebeurtenis, het hy Jesus vir die skare uitgewys as die Lam* van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29). Alhoewel hy oortuig is van sy rol, tree daar ook by Johannes twyfel in oor die Messiasskap van Jesus wanneer hy deur Herodes*4 Antipas in die tronk ge­gooi word. Op ’n navraag van Johan­nes (Matt 11:3), verwys Jesus hom na die Ou-Testamentiese kenmerke van die Messias. Dit volg Jesus op en verklaar dat Johan­nes inderdaad die laaste en grootste van die profete is wat geleef het. Johannes het ook ’n kring van naaste dissipels gehad wat hom getrou gevolg het. Sommige van hulle het waarskynlik van die eerste volgelinge van Jesus geword, maar ander het getrou aan hom en sy prediking gebly. Soos met baie van die profete gebeur het, het Johannes ook ’n martelaarsdood gesterf. Met onverskrokkenheid het hy kritiek gelewer op die koningshuis omdat Herodes Antipas in on­tug geleef het met sy broer se vrou, Herodias. Die koning het blykbaar re­spek gehad vir Johannes, maar toe hy by ’n feesgeleentheid op ’n ondeurdagte oomblik die danseres-dogter van sy vrou, Salome*, die kans gee om enigiets te wens en onderneem om daaraan te voldoen, vra sy op aandrang van haar ma Johannes se kop (Matt 14:8). So sterf hy reeds aan die begin van Jesus se bediening as ’n martelaar.
  2. ‑Johannes, seun van Sebedeus, is die be­kendste Johannes in die Nuwe Testa­ment*. Sy broer was Jakobus* en hulle was die seuns van Sebedeus. Hulle twee het dikwels saam opgetree, soos met die versoek aan Jesus* om eendag in sy koninkryk langs Hom posisie te mag inneem; of om Jesus te vra om te bid vir vuur uit die hemel om die Samaritane* te vernietig. Saam met Petrus* en Jakobus het hy ook deel uitgemaak van die “binnekring” van drie dissipels. Hulle drie is alleen deur Jesus betrek by die ervaring op die berg van verheerliking met Moses* en Elia*; was ook saam by die opwekking van Jairus, die hoof van die sinagoge, se dogter; in Galasiërs noem Paulus* hulle drie die pilare van die kerk*. Ná Pinkster tree hy saam met Petrus op by die genesing van die kreu­pele by die tempelpoort, met die gevolg dat hulle tot verantwoording geroep is deur die Joodse Raad. Dit word ook algemeen aanvaar dat hy waarskynlik die geheimsinnige geliefde dissipel is wat in die Evangelie van Johan­nes* optree, wat langs Jesus aanlê by die laaste nagmaal, en aan wie Jesus sy ma toe­vertrou by die kruisiging*. Ook is liefde een van die groot temas in die geskrifte wat aan sy naam gekoppel word. Hy is een van die outeurs aan wie ’n groot bydrae tot die Nuwe Testament toegeskryf word: ’n Evan­gelie, drie Briewe* en moontlik ook die Openbaring*boek. Sy Evangelie verskil inhoudelik grootliks van die Sinop­tiese* Evangelies en moet eintlik as aanvullend daartoe gesien word. Dit is interessant hoe hy ánder temas van Jesus se prediking uitlig en ook ’n ánder perspektief op die lewe en werk van Jesus gee, terwyl hy tog die basiese struktuur van ’n evangelie handhaaf. Die kort briefies wat aan hom toege­skryf word, stem inhoudelik in ’n groot mate ooreen met die Evangelie. Die Open­ba­ringboek behoort tot ’n heel ander literatuursoort, maar daar is ook genoeg raak­punte met sy ander geskrifte om sy hand daarin te sien. Die inhoud van Johannes se ge­skrifte weerspieël ’n later fase in die ont­wikkeling van die kerk in die Nuwe Tes­tament en gee ’n aanduiding van die spannings wat die integrasie van die verskillende kulture in een geloofsgemeenskap meegebring het. Ook was daar meer­­dere Christelike stromings besig om te ontwik­kel waarop gereageer moes word.

Die vraag is wanneer en waar hy hulle geskryf het. Sy dokumente word meestal redelik laat gedateer, aan die einde van die eerste eeu (90–100 nC). Dit sou beteken dat die outeur al baie oud moes gewees het by die skryf daarvan. Meestal word aanvaar dat die inhoud teruggaan na hom, maar dat die werklike teboekstelling daarvan later deur van sy leerlinge plaasgevind het. Die kerklike tradisie uit die begin van die tweede eeu vertel hoe baie mense by sy voete gesit het om na sy prediking te luister. Ook wil die tradisie dat hy die laaste pe­riode van sy lewe op die eiland Patmos* as ’n banneling deurgebring het, en dit is moontlik dat die inhoud van (sommige van) sy geskrifte hulle beslag daar gekry het. Alhoewel hy en sy broers die seuns was van Boanerges, dus “seuns van die donder”, skilder sy dokumente hom as iemand wat geweet het wat die liefde is.

  1. ‑Johannes, pa van Simon Petrus en Andreas* (Joh 1:42). Hy word ook soms Jona (die Hebreeuse vorm van die woord) genoem.
  2. –Johannes* Markus, medewerker van Pau­lus*, meer bekend as Markus en die moont­like outeur van die Markus-Evan­gelie*.
  3. ‑Johannes wat lid was van die hoëpries­terlike* familie (Hand 4:6).
Sidebar