JOHANNES VAN DAMASKUS

JOHANNES VAN DAMASKUS (676–749) is in die Moesliem-beheerde (Kyk by: Islam) Damaskus gebore, maar die gesin het stoere Christene* gebly en is tog deur hulle Moesliem-bure hoog geag. Sy pa was waarskynlik die hoof van die Siriese belastingdepartement. Toe Johannes 23 was, het sy pa na ’n geskikte onderwyser gesoek wat sy kinders die nodige opleiding kon gee. Op die markplein het hy ’n gevangene, ’n Sisiliese monnik, Kos­mas, raakgeloop wat klaarblyklik baie geleerd en wys was. Hy het vir sy vrylating gereël. Onder sy leiding het Johannes met rasse skrede gevorder in musiek, astrologie en teologie*. Ten spyte van sy Christenskap het hy sy pa se erflike staatspos, protosymbullus (hoofraadsheer van Damaskus), oorgeneem.

Hy het die grootste deel van sy lewe ge­wy aan sy stryd met die ikonoklasme (’n beweging wat hulle beywer het vir die verbod op verering en aanbidding van ikone; Kyk by: Ikone). Sy De fide orthodoxa (Oor die oorgelewerde geloof) het die standaardwerk van die skolastiek geword, en hy word tot vandag toe as een van die belangrikste vaders van die Oosterse Kerk beskou.

Johannes het ook ’n hele aantal liedere gekomponeer en die koorgedeeltes van die Bisantynse liturgie gestandaardi­seer. Daarby het hy die Oktoichos, die gesangboek vir die daaglikse erediens, aangevul, hersien en verbeter.      ^^^1 FOTO:***

Sidebar