JOHANNES XXIII (ANGELO GIU­SEP­PE RONCALLI)

JOHANNES XXIII (ANGELO GIU­SEP­PE RONCALLI) (1881–1963) was die eerste seun van ’n arm plaasarbeider in Lombardië. Danksy sy ouers se opofferings kon hy in ’n nabye gehug skoolgaan. Sy voorbereidende studies in Bergamo is daarna in Rome* voltooi en hy is in Augustus 1904 tot priester gewy. Sy voorliefde vir kerkgeskiedenis kon hy daarna voortsit.

Nadat hy na Rome toe geroep is, is hy gou in die Vatikaanse* diplomatieke diens opgeneem, en het as pouslike gesant in Bulgarye, Griekeland, Turkye en Frankryk gewerk. Oral was hy gewild en het hy goeie betrekkings met ander kerkgenootskappe opgebou. In 1953 is hy as patriarg van Venesië benoem, en op 28 Oktober 1958 tot pous* verkies. Hy het die naam “Johannes” gekies.

Hy het die armes, siekes, gevangenes en kinders bly besoek. Hy het die Vatikaanse finansiële administrasie hervorm. Sy twee opspraakwekkende ensiklieke oor maat­skap­like en politieke betrekkings het ’n nuwe rigting ingeslaan. Sy belangrikste hervormingskuif was die saamroep van die tweede Vatikaanse Konsilie* op 25 Januarie 1959. Sy hoofdoel was die hereniging van die Christendom, en, as middel daartoe, om die kerk vir die eietydse kultuur oop te maak. Ná vier jaar se voorbereiding het meer as twee duisend Katolieke* biskoppe* van oor die hele wêreld, saam met ses en sestig waarnemers uit twee en twintig ander Christelike gemeenskappe, in Oktober 1962 byeengekom. Dié kerkvergadering sou vier jaar duur, al het sy inisieerder in Junie 1963 gesterf.

Vir verdere lees: J Hughes 1994. Pontiffs: Popes who Shaped History. Huntinton: Our Sunday Visitor.

Sidebar