JOHNSEN, CHRISTIAAN HENDRIK (CHRIS)

JOHNSEN, CHRISTIAAN HENDRIK (CHRIS) (1949–) het in 1974 in vennootskap met SA Tomlinson ’n boekwinkel onder die handelsnaam CH Johnsen Boek­handel begin. Johnsen word alleeneienaar van die boekwinkel, betree die groothandel en stig Christian Art Distributors, wat eksklusiewe verspreidingsregte met prominente oorsese uitgewers beding het. In 1989 neem hy die Christelike Uitgewersmaat­skappy (CUM) van Timo Crous* oor, en hy stig CUM-Boeke as filiaal van CUM in 1991. Johnsen versprei sy produkte deur Chris­tian Art Gifts en Christian Art Distributors wyd in die buiteland, en stig in 2003 Christian Art Gifts Inc in Lobard, Chicago, VSA. Hy het lank as president van die Christelike Boekhandelaars-vereniging van Suid-Afrika gedien. Hoogtepunte in sy uitgewersloopbaan is onder meer die publikasie van Die Lewende Bybel (1982), Die Bybel in praktyk (1993), Die Bybellennium (1999 – bekroon met die Andrew Murray­prys*), Die Boodskap (Ou* en Nuwe* Testament in hedendaagse spreektaal-Afrikaans) (2002), Die Bybel A–Z (2003 – bekroon met die Andrew Murrayprys) en Die Nuwe Lewen­de Vertaling (2006). Die beheerraad van die Andrew Murrayprysfonds het in Mei 2000 aan Johnsen ’n spesiale toekenning gemaak vir die rol wat hy oor drie dekades in die Christelike uitgewersbedryf gespeel het. Johnsen is ’n sakeman wat soms op ongewone maniere deurbrake gemaak het en met verskeie Bybelvertalings en Bybelkommentare, dikwels op buitelandse lees geskoei, ’n voorloper-uitgewer in Suid-Afrika en wyer geword het. Hy het in 2014 uitgetree as uitvoerende hoof van CUM en sy seun, Emil, het die leisels by hom oorgeneem. Hy tree nog as voorsitter van dié suksesvolle maatskappyegroep op.

Sidebar