JOHNSON, SAMUEL

JOHNSON, SAMUEL (1709–1784), digter, essayis, joernalis, literêre kritikus en leksikograaf, was die uitstaande literêre figuur in 18de-eeuse Brittanje. Hy verwerf sy MA te Oxford en werk as joernalis in Londen, waar hy ’n verskeidenheid genres beoefen. Die publikasie van sy Dictionary of the English language (1755), geïllustreer met toepaslike aanhalings uit die Engelse letterkunde, bring hom baie roem. In 1765 versorg hy ’n nuwe uitgawe van die werk van Shakes­peare, in agt volumes, wat aan hom twee eredoktorsgrade besorg. Sy Lives of the most eminent English poets verskyn in 1777. Dit word egter algemeen aanvaar dat geeneen van sy werke die standaard bereik van sy briljante gesprekke nie, soos beskryf deur James Boswell. Baie reken sy Life of Johnson as die grootste Engelse biografie van alle tye. Sy kritiek op Shakespeare openbaar Johnson se sterk Christelik-moralistiese siening: “He is so much more careful to please than to instruct, that he seems to write without any moral purpose … it is always a writer’s duty to make the world better.”

Sidebar