JONA (BYBELBOEK)

JONA (BYBELBOEK) is sekerlik een van die bekendste Ou-Testamentiese* verhale. Van kleintyd af ken ’n mens die verhaal van Jona en die groot vis. Die boek is egter ook bekend omdat dit dikwels die fokuspunt is van die stryd tussen diegene wat meen dat die boek letterlik waar is, en diegene wat meen dat dit ’n soort gelykenis is wat ’n geestelike waarheid wou oordra. Eersge­noem­de groep verwys gewoonlik na Matt 12:40 waar Jesus* sy tyd in die graf vergelyk met die tyd wat Jona in die vis deurgebring het. Volgens hierdie redenasie sou Jesus nie hierdie analogie gebruik het as dit nie werklik so gebeur het nie. Die historisiteit van Jona is dus vir hierdie groep ’n soort lakmoestoets of iemand die gesag van die Skrif* aanvaar of nie. Diegene wat anders oor die boek Jona dink, wys daarop dat daar ander soortgelyke verhale in die Ou Testament voorkom (bv die verhaal van Bileam* en die donkie in Num 22–24) wat ’n bepaalde perspektief oor God wil oordra.

Die boek vorm deel van die Boek van die Twaalf* hoewel dit in vorm heeltemal anders uitsien as die ander elf. Jona is naamlik in ’n prosa-verhaalvorm geskryf (behalwe hoofstuk 2 wat ’n gebed in poësie bevat), en dit vertel van die profeet* Jona in die derde persoon. Die kunstige verhaal keer die verwagtings van die leser heeltemal onderstebo. Aan die begin verwag die leser (so ook die antieke hoorders van die verhaal) dat die profeet Jona die held van die verhaal sou wees. Dit is ook klinkklaar aan die begin wie die “slegtes” in die verhaal is: die heidense Nineviete. Uiteindelik is dit die profeet wat ongehoorsaam aan die Here is, en die Nineviete bekeer hulle teen die verwagting in tot die Here* sodat die Here hulle (en hulle diere!) genadig is. Dit is juis hierdie onlogiese genade* van die Here wat Jona onderkry. Hy het verwag dat die Here hulle sou straf.

Uitleggers is min of meer eenstemmig dat hierdie verhaal in die na-ballingskapse periode (Kyk ook: Ballingskap) ontstaan het. Dit is min of meer die tyd wat die boeke Esra* en Nehemia* ook ontstaan het. In daardie boeke word daar (in Esra 10 en Neh 13) te velde getrek teen diegene wat met vreemde vroue getrou het. Die aandrang is sterk dat die Joodse* volk suiwer gehou moes word. Uitleggers meen dat die boek Jona moontlik ’n polemiek teen hierdie eng siening sou kon wees, dit wil sê: dat Jona juis wil beklemtoon dat God in sy vrye genade redding oor die grense van die Joodse volk laat spoel om ook heidenvolke (Kyk by: Heidene) in te sluit. Uit die literêre vorm van die boek is dit duidelik dat die verhaal juis wou verras deur die verwagtings om te keer.

Teen hierdie agtergrondsgeskiedenis blyk dit dat die boek Jona inderdaad baie meer te sê het as bloot die vraag hoe Jona vir drie dae en nagte in die ingewande van ’n groot vis lewendig kon gebly het. Die boek vertel van die verrassende genade* van God wat selfs sy profeet onkant betrap het. Die boek wil die leser nie in die eerste plek aanspoor om verras te wees oor ’n wonderwerk van ’n vis nie, maar oor die wonderwerk dat ons die God van oneindige genade leer ken het.

Vir verdere lees: JH Potgieter 1991. ’n Narratologiese ondersoek van die boek Jona. HTS Supplementum 3.

Sidebar