JONKER, HENDRIK

JONKER, HENDRIK (1917–1990) studeer teologie* in Utrecht (1940). In 1954 promoveer hy onder leiding van J Severijn met ’n proefskrif oor Karl Jaspers*. As Hervorm­de predikant* bedien hy tussen 1944 en 1959 drie gemeentes*. Vanaf 1959–1984 is hy hoogle­raar van die Nederlandse Hervorm­de Kerk in Utrecht, Nederland, waar hy Bybelse* teologie, die wese en geskiedenis van die apostolaat* en praktiese* teologie doseer. Hy was lewenslank lid van die Gere­for­meerde Bond in die Nederlandse Hervormde Kerk.

Die saak wat hom sy lewe lank boei, is die verhouding tussen waarheid (die openbaring van God) en werklikheid (die aktue­le vrae en eietydse antwoorde), ’n probleem wat hy veral skerp aanvoel nadat hy as predikant in die Amsterdamse stadsgemeente begin werk het. Die verhouding tussen hierdie twee groothede, waarheid en werklikheid, is wat hom betref ’n onophefbare probleem. Die waarheid kan nooit van die werklikheid losgemaak word nie en omgekeerd gaan die werklikheid nooit volledig in die waarheid op nie. Terselfder­tyd is waarheid en werklikheid volgens hom nie gelyke vennote nie, maar geniet die geopenbaarde Bybelse waarheid prio­riteit. Die wetenskappe (soos die sosiologie of psigologie) wat hulle met die werklikheid besig hou, is in dié verband vir die teologie slegs hulpwetenskappe. Jonker se werke, veral boeke soos Actuele prediking (1965) en En toch preken (1973) is in Suid-Afrika alom bekend en hoog geag.

Vir verdere lees: H Jonker (sa). Litur­gische orientatie: Gesprekken over de eredienst. Wageningen: Zomer & Keunings. H Jonker 1965. Actuele prediking. Nijkerk: Callenbach; H Jonker 1973. En toch preken. Nijkerk: Callenbach. H Jonker 1983. Theologische praxis: Problemen, peilingen en perspektieven bij kenterend getij. Nijkerk: Callenbach.

Sidebar